Subscribe by Email

Afrikanerdebat: Presentabel en fatsoenlik

Vanslewe, as domineesgoed sonder vooraf notisie op die plaas uitslaan om te kom huisbesoek loop doen, het dit ‘n aardige geskarrel afgegee.

So ver as moontlik uit die dominee se oog, is lampetbekers gegryp, koue water in al wat basin is gegooi en die ergste afgespoel. Kort voor lank sit algar in die skemer sitkamer in ‘n kring, stigtelik en wag op dominee om die woord te spreek. Dit was fatsoenlik om almal so presentabel as moontlik vir domineesgoed te maak.

En watter plattelandse predikant sal nie met nostalgie onthou hoe die tienerseuns hul kaal voete so ongemerk as moontlik onder ‘n matjie of bokvelletjie ingesteek het nie. Die kuiwe natgevee met ‘n waslap om die ergste weerbarstige kroontjies op die borselkoppe plat te probeer kry, die gesigte blinkskoon – die hande op ‘n plan skoon, maar tyd om iets aan die kaal voete te doen – daarvoor was daar nie tyd nie.

Uit respekte vir die dominee, en so, eintlik ook vir die Here.

Presentabel en fatsoenlik, om van respek te praat, het uit soveel “debatte” verdamp.

Die filosoof, prof. Willie Esterhuizen, meen dis oor fundamentalisme wat na die politiek getrek het. ‘n Mens moet egter die begrip, fundamentalisme dun rek om die politieke toneel daarmee te beskryf. Selfs in die ewe smerige godsdiensdebatte waar “fundamentaliste” en “post moderniste” mekaar takel is daar geen sprake van die Bybelse sagte woord wat die grimmigheid afkeer nie.

Politieke sosioloë sal ‘n ruim studieveld hê om te verstaan hoekom die moderne mens so vreeslik behep is met samesweringsteorieë en die alternatiewe aanbieding van die werklikheid. Is daar ‘n onderwerp, of dit nou klimaatsverandering is, die toename van outisme, die oorsaak van Vigs, evolusie …daar sal wel andersdenkendes wees. Soos ‘n sielkundige onlangs uitgewys het, dit is vreemd dat dit heel dikwels die ergste ontkenners dat die Amerikaners ooit op die maan was, is wat die felste sal propageer oor die naderende Planeet X.

Miskien het die internet die grootste rol gespeel dat dit hierdie afmetings kon aanneem. Sommer vanuit die staanspoor het internet-debatte ‘n karakter van robuustheid gekry, versterk deur die verskynsel dat die grootste kuberbekke dit gewoonlik onder skuilname pleeg. So kristalliseer groepe wat mekaar warm broei, mekaar beïnvloed en oortuig.

Webwerwe ontstaan wat op die oog af vreeslik gesaghebbend is, maar die grootste klomp bollie verkwansel. Dit skep egter ‘n versamelpunt van mense wat hierdie gedagtes deel, wat dikwels na die werklike lewe daarbuite oorspoel. Godsdienstige webwerwe wat onder die vaandel van die Bybel in weinig anders as laster- en liegruimtes ontwikkel, is onder die mins-fatsoenlikes en eis nie net met groot aggressie hul reg op om te oordeel en veroordeel nie, maar omdat hulle “Bybels” is wil hulle van kritiek geïnsuleer wees.

Daar was al gereeld rubrieke en artikels oor die ondenkbare vlakke van smerigheid wat ‘n groot deel van die kuberruim oorheers.

Dat dit na die “werklike lewe” sou, of sal oorspoel, is ‘n gegewe. Of dit wat ons nou sien, is ‘n bietjie komplekser om met stelligheid te sê.

Dit handel spesifiek na die jongste voorval, toe prof. Anton van Niekerk glo aan die hand van ‘n regse op sy baadjie gekry het. Dit volg op ‘n omstrede artikel deur die prof, waaroor baie mense, ook mense wat nie aanhangers van die prof is nie, meen in kommentare bietjie rof omgegaan is. Ongelukkig staan die artikel ook nie in isolasie nie, en die wortels strek in verskeie rigtings – ook na Julius Malema se aanblaas van polarisasie.

En polarisasie is iets waarop politieke sosioloë gedy.

Om twee redes wil ek my nie te veel oor die aanrandingsinsident uitlaat nie. Ek verwys na ‘n instruksie wat ‘n uitstellanddros in die Reitz-vier-insident uitgereik het. Sy het naamlik die media en die politici gemaan om nie die regsproses vooruit te loop, en die vier voortydig skuldig te bevind nie.

Ten spyte daarvan dat ‘n oortreding hiervan op ‘n minagting van die regspraak neergekom het, was dit ook minagting van die hof, maar dit het bloedweinig indruk gemaak.Uiteindelik is die vier onder die beginsel van onregstreekse aanspreeklikheid skuldig bevind, en onder appèl is die verhoorlanddros deur die regters gestriem omdat hy in wese die vier gevonnis het oor aspekte waaraan hulle nie skuldig bevind is nie.

In hierdie geval was dit nie soos toe wyle Eugene Terre’Blanche en sy manne vir prof. Floors van Jaarsveld gaan teer en veer het, en daar oor die feite geen onduidelikheid was nie.

Die tweede – ek was self by geleentheid so geprovokeer dat ek ‘n NP-LP (toevallig familie van prof. Van Niekerk), wat ek van kindsbeen geken het, se wange vuurwarm geklap het. Elke keer as die knaap ophou huil het, het hy weer skoor gesoek en is weer geklap. En ek is nie iemand wat rondloop en mense klap nie. Ek is oortuig nege uit die tien mense in my posisie sou die LP nog veel duideliker verduidelik het, selfs al is hulle nie oor jare vertoorn nie..

Dit is en bly egter nie fatsoenlik nie.

‘n Tweede saak, ook waaroor ‘n mens die woorde moet tel, onder andere omdat die Afrikanerbond regsadvies inwin, is die onsmaaklikheid tussen ‘n voormalige senior lid van die bond, en die bond self. Die AB stel dit onomwonde dat hy nie tot die vlak van sy kritikus, wat in ‘n verkiesing om hoofleierskap die onderspit teen die huidige voorsitter gedelf het, wil daal nie.

Moontlik is die storm opgeskop as reklame vir ‘n boek oor die AB wat die kritikus pas voltooi het, en ‘n uitgewer voor gevind het.

Terug na die Van Niekerk-voorval. Voorspelbaar is regse / behoudende / konserwatiewe webwerwe van mening dat die gedrukte media, en spesifiek die Afrikaanse media – die skuld moet dra vir die Van Niekerk-insident. In wese kom dit daarop neer dat die Afrikaanse pers nie net die regse stem frustreer deur dit grootliks te ignoreer nie, maar provokasie aanblaas deur die liberale agenda te bevorder en aktief die regse stem bespotlik probeer maak.

Persepsies is nie noodwendig op die werklikheid gebou nie, maar die mens reageer op sy persepsie van die werklikheid, nie die werklikheid self nie.

Ook in die politieke sosiologie word die klimaat geskik vir revolusie hiervolgens verduidelik. Op die grafiek van relatiewe deprivasie raak die verskil tussen werklikheid en verwagtings / persepsie soms so groot dat die spanningsvlak in revolusie ontbrand. In ‘n heterogene samelewing is dit komplekser, omdat verskillende groepe se mediaanverwagtinge verspreid rondom die werklikheid gespasieer is. Die ontbrandingspotensiaal is dus die somtotaal van die verskillende groepe se mediaanverwagtinge weg van die werklikheid.

In beginsel beywer die liberalis hom vir pers- en meningsvryheid. Die fout word egter dikwels gemaak dat die liberalis daarom ook die instrumente wat hy beheer, moet aanwend of aanmoedig om die “alternatiewe” boodskappe ook uit te dra. ‘n Onwilligheid om dit te doen, het die rissiepit-rubriekskrywer, Rhoda Kadalie al laat skryf dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is. Verwagtinge dat die pers “die ander kant moet stel” bou soos ‘n drukkoker op, erger as die blote feit dat die “ander kant” verswyg” word.

Fatsoenlikheid en presentabelheid is nie die alleen-eiendom van die liberalis of die konserwatief nie. Prof. Carel Boshoff, wat onlangs oorlede is, sal deur baie onthou word as die een persoon wat altoos presentabel en fatsoenlik was. Hierteenoor was daar ook uit liberale geledere in die nie te verre verlede nie voorvalle van vuilbekkigheid – tot in die parlement.

Die hartseer is dat waar ‘n artikel soos hierdie waarin gepleit word vir fatsoenlikheid van al die kante iewers op die internet geplaas word waar daar kommentaargeriewe is, sal dit ook onder die smerigste kritiek en slegsê deurloop. Ek weet, want dit hét al gebeur.

Herman Toerien