Subscribe by Email

Afrikanerbond win regsmening in ná broedertwis

Mnr Jan Bosman, Hoofsekretaris van die AB

Die Afrikanerbond gaan regsadvies inwin nadat die organisasie skerp kritiek moes verduur in ʼn broedertwis met ʼn voormalige lid van sy Uitvoerende Raad, dr Jan van der Merwe. Dr Van der Merwe het die AB in ʼn onderhoud met Koerant.com onder andere daarvan beskuldig dat hulle die organisasie se lidmaatsyfers al jare lank kook en hulle met “stront” besig hou.

Die AB wou op navraag geen verdere vrae rakende die AB se hoogs omstrede lidmaatsyfers en sy finansies beantwoord nie. Die AB se hoofsekretaris, mnr Jan Bosman, wou ook nie besonderhede verskaf ten opsigte van die CR de Wet fonds waaruit die AB gefinansier word nie.

In antwoord op navrae het Bosman gesê: “Ons het die betrokke artikels soos geplaas verwys vir ʼn regsmening en gaan dus nie verdere kommentaar lewer nie.” Dit volg nadat Koerant.com en Rapport berig het oor die skerp kritiek wat dr Van der Merwe, teenoor die AB uitgespreek het. 

Bosman het verlede week aan Koerant.com gesê die organisasie het sowat 4 000 lede. In ʼn opvolgberig in Rapport het hy egter teruggekrabbel en gesê sowat die helfte daarvan is “rustend”. Hy wou nie op navraag aan Koerant.com verduidelik wat bedoel die organisasie met “rustende lede” nie.

Dit is welbekend dat die AB sedert 1994 duisende van sy lede verloor het.

ʼn Voormalige lid van die voormalige Broederbond het op Facebook geskryf rustend in AB terme is om af te tree en nie meer ledegeld hoef te betaal en nie meer verpligte vergaderings by te woon nie. Rustende lede kan egter steeds vergaderings bywoon. “Meeste rustende lede is maar terminaal van aard. So was dit lank gelede en dit is erg as die helfte van die AB rustend is,” het dr Bennie Celliers op Facebook geskryf.

Volgens onbevestigde inligting wat die afgelope week aan Koerant.com verskaf is, is daar slegs sowat 800 opbetaalde lede in die AB oor. Die AB se hoofsekretaris het aan Rapport gesê die AB se lidmaatstate is verlede Donderdag bevestig en hulle het sowat 2 000 aktiewe en 2 000 rustende lede.

Die organisasie se lopende uitgawes beloop glo sowat R1,8 miljoen per jaar maar die AB wou ook geen inligting oor sy finansies bekendmaak nie.

Hier is die vrae wat Koerant.com aan die hoofsekretaris van die AB gerig het waarop hulle nie wil kommentaar lewer nie:

  1. Uit hoeveel lede bestaan die Adhoc komitee waarna die AB in sy kommentaar op Koerant.com verwys en wie is die lede wat tans daarop dien en aan watter organisasies behoort hulle?
  2. In die AB se aanvanklike reaksie word gesê die AB bestaan uit 4 000 lede maar in die kommentaar aan Rapport word gesê sowat 2 000 daarvan is “rustend” . Presies wat bedoel julle met “rustende lede”?
  3. Wat is die gemiddelde ouderdom van die sowat 2 000 nie-rustende lede van die AB?
  4. Hoeveel van die AB se lede is vroue en hoeveel lede is nie wit Afrikaners nie.
  5. Het die  AB al ooit enige geld geskenk vir Solidariteit se afdeling Helpende hand om die lot van armblankes te help verlig?
  6. Die AB se voorsitter, Piet Vorster, se standpunt is volgens mense soos dr Van der Merwe en andere dat bruinmense nie Afrikaners kan wees nie. Ek verneem graag of dit korrek is en wat is die AB se amptelike standpunt in die verband en ook die van mnr Vorster?
  7. Hoe is dit gesteld met die CR de Wetfonds en is die fonds se finansiële state vir openbare insae beskikbaar.

3 Responses to Afrikanerbond win regsmening in ná broedertwis

  1. Linda

    Julie 20, 2011 at 11:24 am

    Ek moes destyds ‘goedgekeur’ word om met my man te kon trou omdat hy toe aan die Rapportryers behoort het. Dit het later die AB geword. Ek mag NOOIT geweet het wat op die vergaderings bespreek is nie. Ook nie as ek die eetgoed moes voorsien nie. Die vrouens kon slegs die kos inbring vir die ‘manne’. Enige papiere is onder die grootste geheimhouding verbrand. Ek mag dit ook nie gelees het nie. Dis geheim!! My buurman, wat nie aan die AB behoort het nie, het meer geweet van die realiteit van die land as my man wat elke maand ure lank vergadering gehou en geëet en gedrink het. Ek wil nie eens hoor van die AB nie!!

  2. Bennie Cilliers

    Julie 12, 2011 at 6:53 pm

    Jan,
    Hulle trap water en hoop die oop gekrapte miernes verdwyn stilletjies. Waarvoor is die regs oppinie nou nodig.? Daar is mos geen skade aangerig, behalwe as die 2000 aktiewe lede vermider is tot 800. Sulke ronde getalle klink soos die bekende politici se verduidelikings en is hoogs verdag. Ek glo doodeenvoudig nie meer ronde getalle..!!

    Bennie Cilliers.

  3. Jan van der Merwe

    Julie 12, 2011 at 3:47 pm

    Ek dog die AB se voorsitter is n advokaat. Hoekom gee hy nie sommer self n regsopinie nie ? Of is die saak te ingewikkeld vir hom ? Dit is duidelik dat ek hulle hok vir hulle behoorlik geskud het ! Dit is tyd dat hulle soos die NNP die eerbare ding moet doen en hulle deure sluit . Hulle kan die CR DE WET FONDSE skenk vir instansies soos die ATKV, NALN , die VOORTREKKERS ensevoorts