Subscribe by Email

Afrikanerbond grom oor grondbesit

In 2008 het die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg die burgerlike samelewing suksesvol gemobiliseer teen die Onteieningswetsontwerp en was die gevolg dat die ongrondwetlike wetsontwerp teruggetrek is.

ʼn Aantal werkswinkels is weer sedert November 2010 gehou en is die Ad Hoc Groep, bestaande uit ʼn aantal politieke partye en organisasies uit die burgerlike samelewing weer geaktiveer. Die groep en het met kommer kennis geneem van ʼn aantal tendense wat aan die kern lê van heelwat van die huidige probleme en beleidsimplementering. Daarom moet uitsprake oor nasionalisering, grondonteiening, gebrekkige misdaadbeheer en die falende staat geëvalueer word aan die hand van die volgende:

– Die ANC regering is ideologies gedrewe met die Nasionale Demokratiese Rewolusie wat die grondslag vorm vir regeringsbeleid en uitsprake. In die lig hiervan moet mnr Julius Malema se uitsprake oor witmense en nasionalisering gesien word en minister Gugile Nkwinti se uitsprake oor grondhervorming.

– Die ANC regering se gebrek aan vermoëns. Daar mag by sommige ʼn begeerte wees om die regte dinge te doen, maar as gevolg van kader-ontplooiing bestaan die vermoë egter nie om uitvoering te gee aan beleid nie. Dit lei tot staatsverval.

– ANC kaders se drang tot selfverryking lei tot ʼn toename aan korrupsie en diefstal.

– Die ANC se interne leierskapoorlewing lei tot gebrek aan dienslewering want ter wille van politieke oorlewing is daar nie besluitneming nie en is die fokus eerder op die volgende leiersverkiesing en beleidskonferensie.

IN die lig van bogenoemde het die Ad Hoc Groep met vreugde kennis geneem van Solidariteit se inisiatief om mnr Julius Malema aan die kaak te stel, binnelands, sowel as buitelands. Hierdie is maar slegs een element van die totale inisiatief wat nodig is en het die Ad Hoc groep sedert Mei 2011 onverpoos gewerk aan ʼn omvattende strategie ten opsigte van die Nasionale Demokratiese Revolusie wat eersdaags van stapel gestuur sal word. Hierdie strategie wat wye inbinding moet hê ook van ander minderheidsgroepe, en ʼn breë Suid-Afrikaanse belang moet verteenwoordig, omvat ook nasionale en internasionale inisiatiewe.

Bogenoemde omvattende strategie is nie ʼn korttermyn inisiatief nie maar sal verskeie dimensies oor ʼn lang tyd omvat. Die hooffokus is egter die ANC alliansie se aanhang van die Nasionale Demokratiese revolusie wat soos ʼn rot knaag aan die pilare van ʼn suksesvolle Suid Afrika. Vir solank as wat die uitgediende Nasionale Demokratiese Revolusie die kapstok is vir ANC beleid en vir so lank as wat die NDR die grondwetlike demokrasie bedreig moet die burgerlike samelewing en sy instellings weerstand bied en alternatiewe na die tafel toe bring. Dit is die fokus van die inisiatief wat eersdaags ʼn aanvang neem.

10 Responses to Afrikanerbond grom oor grondbesit

  1. Pingback: Afrikanerbond win regsmening in ná broedertwis | Koerant.co.za

  2. Herman

    Junie 30, 2011 at 10:18 am

    Ek is nou al ‘n paar jaar in die NHK na ek dekades lank in die GKSA (Gereformeerde Kerke) was. Die stelling dat die GKSA die mees diskrimenrende is, mag waar wees ten opsigte van gemeenstes wat buite die kerkorde optree. Wat die kerkstruktuur betref, was daar nog nooit veskillende kerke vir verskillende bevolkingsgroepe nie (bv soos die NG Kerk, die NG Sendingkerk, NG Kerk in Afrika ens nie). Wel taalsinodes, plus die Sinode Suidland wat lank reeds in die Algemene Sinode (voorheen Afrikaans/wit) opgegaan het. Die swaartepunt van besluitneming gaan ook oor na die Algemene Sinode, waar almal saamkom. Wat vroue betref, is die diskriminasie erg, en is ek ontstoke oor redes wat vd voorste teoloë aangee, soos dat dit bande met ander ewe vroue-diskriminerende kerke in gedrang mag bring. Wat my betref, bepaal ‘n teokrasie dat God self leiding gee, nie bande met ander kerke nie. Herman Toerien

  3. Jennifer

    Junie 30, 2011 at 8:09 am

    Jan , die AB is nie eers meer die moeite werd om ‘n siek grap genoem te word nie. Julle grys-skoen-brigade het die tyd wat julle gehad het om ‘n verskil te maak vieslik misbruik en verspeel . Wil julle maar nie ook soos julle ou heiligekoei die NP maar stilweg verdwyn nie. Is daar nog baantjies- vir -boeties ?

    Jy beweer : Daarom is die Afrikanerbond gemoeid met die handhawing van fundamentele regte, die vestiging van demokrasie, die bevordering van verantwoordelike burgerskap en patriotisme. In die bereiking van die doelwitte is die Afrikanerbond gemoeid met regstellende aksie, aksies teen misdaad, landelike veiligheid, grondhervorming, naamsveranderinge, moedertaal onderwys en vele meer.

    Jy praat in jou slaap Jan. Word wakker en ruik die rose . In wat jy hierbo noem probeer jy julle pre- 1994 rasisme en diskriminasie kamoefleer . Dink jy vir een oomblik niemand kan deur julle assosiasie met die VF, TLU, FAK ens sien nie?

    Jou verwysing na die Gereformeerde Kerk laat juis die rooi ligte flikker. Van die Susterskerke is die GK die mees diskriminerende van die lot. Snaaks dat jy politieke punte probeer wen deur grondonteiening maar vir gerieflikshalwe vergeet jy van die diskriminasie van die GK teenoor vroue.
    Hoe gouer Afrikaans ‘n kombuistaal word en kinders in ‘n wêreldtaal onderrig word hoe beter. Dis snaaks dat jy nog blêr teen Milner se verengelsing terwyl die gesiedenis bewys het dat dit die beste vir alle Afrikaanssprekendes sou gewees het om Engels as eerste taal aan te neem. Ek kry daagliks skaam om te hoor hoe pateties afrikaners Engels praat …ek is seker jy het al vir Naas en kie op TV hoor praat.
    Dankie tog dat die broederbond , die NG kerk en fundamentaliste soos JY geen beheer meer het oor die rigting en toekoms van die land nie. Kry vir jou nuwe skoene , daai grys- skoen – mentaliteit se onderrok sleep in die stof .

  4. Jean Oosthuizen

    Junie 30, 2011 at 7:53 am

    Beste Jan,

    Dankie vir die uitnodiging. Ek sal graag saam met jou koffie drink as ek weer in Johannesburg kom. Laat weet gerus as jy in die Kaap is dan drink ons ’n bottel wyn. Ons is nie so goed op die koffie hier soos julle nie. Dan kan jy ook sommer sien ek is geensins verbitterd nie. Ek stel doodgewoon belang. Ek is seker jy sal darem ook nie regtig van my verwag om my net by kerksake te hou nie.

    Afrikaners is nou maar eenmaal lief om oor kerk én politiek te praat. En hier in die Kaap is ons selfs nie eers meer skaam om oor rugby te praat nie.

    Dankie vir jou kommentaar, ek waardeer die moeite. Jy skryf: “Die Afrikanerbond verteenwoordig Afrikaners wat werklik verbind is tot Suid-Afrika en positief wil bydrae tot die skep van ʼn suksesvolle Suid-Afrika wat geleenthede bied vir alle Suid-Afrikaners.” Dit is ‘n mooi doelwit. My vraag is watter mandaat het julle van Afrikaners? Wie is hulle? Mens kan mos nie somer self besluit jy verteenwoordig ’n groep mense nie of is ek verkeerd? Ek het geen probleem daarmee as jy sê julle is gemoeid met die handhawing van sekere regte nie.

    Maar ek dink julle vat dit effens wyd om sommer aan te neem julle “verteenwoordig” ’n sekere groep mense as ons nie weet wie dit is en op watter wyse hulle aan julle ’n mandaat gegee het om dit te doen nie. Of is dit slegs die 4 000 lede van wie jy praat? Is al die 4 000 lede se name bekend of is dit soos voor 1993 ’n geheim wie almal lede van die AB is? Die rede waarom ek dit vra is doodgewoon omdat die geheime lidmaatskap van die Broederbond in die verlede dikwels ’n baie verdelende uitwerking op Afrikaners en die land as geheel gehad het.

    Ek sien ook jy noem twee politieke partye wat deel is van die Ad Hoc komitee wat deur die AB gefasiliteer word naamlik die VF+ en die DA. Hoe het dit gebeur dat slegs die twee partye deel is van die komitee? Het julle as fasiliteerders slegs hulle genooi of hoe werk dit?

    Jan, jy moet tog maar geduldig wees en verskoon as ek vrae vra wat vir jou simpel mag klink maar dit is goed waaroor baie mense wonder. En met respek, julle is nie altyd baie goed met kommunikasie nie. Ek het byvoorbeeld verlede jaar jou kommentaar gelees op wyle prof Nico Smit se boek waarin hy onder meer oor die Broederbond praat. Dit was nogal snedig. Ek sal graag ‘n afsonderlike gesprek met jou daaroor wil voer. Het jy toe die boek gelees want destyds het jy kommentaar gelewer voordat jy die boek gelees het.

    Dankie vir die skakel na julle webwerf. Ek sal beslis gaan kyk. Dalk word van my vrae sommer daar beantwoord.

    Groete
    Jean

  5. Herman

    Junie 30, 2011 at 7:41 am

    Ek is die sondaar wat die berig (mediaverklaring) geplaas en die misleidende kop voorsien het. Ek is jammer daaroor – dit het in ‘n stadium gebeur toe ek vir ‘n proefvertaling en moontlike inkomste gewag het – wat nooit opgedaag het nie. Intussen help ek twee publikasies sak. Gewoonlik probeer ek baie sekuur met die koppe wees, aangesien ek al self in groot verleenthede beland het deur koppe wat iemand verskaf het.
    Ek is nietemin bly dat dit tot groter opheldering gelei het, en ou bande skynbaar hervat kan word. Herman Toerien

  6. Jan Bosman

    Junie 30, 2011 at 6:48 am

    Beste Jean

    Ek lewer graag kommentaar op die vrae wat jy vra. Die Afrikanerbond verteenwoordig Afrikaners wat werklik verbind is tot Suid-Afrika en positief wil bydra tot die skep van ʼn suksesvolle Suid-Afrika wat geleenthede bied vir alle Suid-Afrikaners. Daarom is die Afrikanerbond gemoeid met die handhawing van fundamentele regte, die vestiging van demokrasie, die bevordering van verantwoordelike burgerskap en patriotisme. In die bereiking van die doelwitte is die Afrikanerbond gemoeid met regstellende aksie, aksies teen misdaad, landelike veiligheid, grondhervorming, naamsveranderinge, moedertaal onderwys en vele meer. Ons het tans net meer as 4000 lede in verskillende kategorieë wat in meer as 200 afdelings funksioneer in dorpe regoor Suid-Afrika. Vandat die AB in 1993 ‘n oop benadering volg kan enige persoon aansoek doen vir lidmaatskap. Meer inligting oor ons grondwet en dies meer beskikbaar op ons webwerf by http://www.afrikanerbond.co.za

    Wat die Ad Hoc Groepering aanbetref. Die volgende is onder andere deel van die Ad Hoc Groep en is daar niks klandestien daaroor nie. (Afrikanerbond, AfriForum, Demokratiese Alliansie, Vryheidsfront, AgriSA, TLU-SA, FAK, FW De Klerk Stigting, Nasionale Belastingbetalers Unie.) In die vorige rondte met grononteiening was die Gereformeerde Kerk ook betrokke.

    DIe NDR aksie wat volg het ‘n groter groep rolspelers en is die AB net een organisasie wat betrokke is.

    Indien jy weer in die Johannesburg omgewing is nooi ek jou graag vir koffie.

    Groete

    Jan

  7. Jean Oosthuizen

    Junie 29, 2011 at 7:48 pm

    Dag Jan,

    Lanklaas van jou gehoor. Ons het mekaar laas in die Parlement gesien. So af en toe sien ek op TV jy broer nog. Ek is bly ons loop mekaar nou weer raak. Sal graag by jou wil hoor hoe staan sake deesdae met die Broers en wat rig julle alles aan behalwe nou om so klandestien vir grondregte te veg. Weet die politieke partye en die kerke van wie jy praat dat die Broedebond dit fasiliteer? Dis interessant. Ek sal graag by jou wil weet of hulle bewus is daarvan want ek wil beslis hulle kommentaar daarop kry indien dit wat jy sê waar is.

    Dit is seker nie ‘n geheim nie of is dit? Nogtans dankie dat jy reageer het. Ons het mekaar so lanklaas gesien. Ek dink laas was toe ons eeendag saam in Pretoria iets geeët het. Daar is nog heelwat wat ek jou graag wil vra. En as amptelike woordvoerder van die Broers is daar seker niemand beter as jy nie.

    Broederlike groete
    Jean

  8. Bennie Cilliers

    Junie 29, 2011 at 5:08 pm

    Jan,
    Jean Oosthuizen klink glad nie verbitterd. Ek meen hy vra tog sinvolle vrae. Die AB het tog afstand gedoen van geheimhouding of is dit nie waar. Lede se lidmaatskap is mos lankal nie meer vertroulik, of is dit. Die verklaring is so vaag dat mens glad nie kan aflei wat die aksie is. Woorde soos Fokus van inisiatief en onbekende Ad Hoc groepering is so in die styl van Jannie maak vir Gogga bang. Hoekom dan die verklaring maak en vaag bly oor die konkrete aksies. Is dit om die AB meer sigbaar te maak?

  9. Jan Bosman

    Junie 29, 2011 at 3:15 pm

    Nie geweet Jean Oosthuizen is so verbitterd nie. Miskien moet hy hom liewer by kerksake hou. Die AB is die fasiliteerder van die groepering wat politieke partye, georganiseerde landbou en andere in die burgerlike samelewing insluit. In die vorige rondte (2008) was ‘n aantal kerke ook deel van die Ad Hoc groep. Dit is nie die AB wat die beoogde inisiatief dryf nie, so Jean kan gerus wees. DIe bedreigings wat onder die vaandel van die NDR ons demokrasie bedreig is op ons voorstoep, of Jean nou daarvan hou of nie. Daarom moet ons nie te kieskeurig wees oor wie of wat dit teenstaan nie.

  10. Jean Oosthuizen

    Junie 29, 2011 at 1:13 pm

    Bestaan die Afrikanerbond nog? Wie op aarde verteenwoordig hulle en namens wie praat hulle? Hoeveel lede het hulle oor en wat is hulle doel? Wil die Broederbond nie maar gaan rus nie. Nuwe naam of te not. Klink byna soos die NP wat die NNP geword het. Albei is ewe ou Suid-Afrika.