Subscribe by Email

Afrikaner se posisie in UNPO-jaarverslag bespreek

Die posisie van die Afrikaner word in die jaarverslag van die Unrepresented Nations and Peoples Organisastion (UNPO) bespreek wat pas bekend gestel is, en die Suid-Afrikaanse regering loop onder die roede deur. Die ander groepe uit Suider-Afrika wat aan die bod gestel word is die Rehobot-basters van Namibbië en die Venda.

Oor die Afrikaner skryf die UNPO dat meer as 50 persent van die skole wat in Afrikaans onderrig het sedert die einde van apartheid, nie meer Afrikaansmedium is nie. Baie Afrikaanse plekname het ook in die slag gebly.

UNPO meen dat die taalkwessie wel Afrikaners kan dwing om ander Afrikatale aan te leer, maar dit bedreig ook die kulturele identiteit van die volk.

UNPO wys ook daarop dat daar pogings was om die administratiewe hoofstad, Pretoria se naam na Tshwane te verander terwyl opnames toon dat die meeste mense daarteen gekant is, en dié pogings kan verskille vergroot.

UNPO glo ook dat plaasaanvalle dikwels die gevolg is van anti-wit gevoelens, en aanvaar nie die regering se beskouing dat dit bloot deel van die algemene misdaadsituasie is nie. Die organisasie veroordeel daarom die moorde op boere ten sterkste. UNPO sal daarom volhou met sy veldtog om die regering hiervoor verantwoordbaar te hou.

In ‘n berig vandag in Volksblad skryf Leopold Scholtz uit Europa dat die UNPO pas op sy jaarvergadering ‘n mosie aanvaar het om die VN-sekeretaris-generaal, Ban Ki-moon te versoek om ‘n feitsesending na Suid-Afrika te stuur om ondersoek in te stel na die posisie van minderhede. In nog ‘n mosie is besorgdheid uitgespreek oor diskriminasie teen minderhede, soos deur regstellende optrede manifesteer.
Herman Toerien