Subscribe by Email

Afrikaanse plekname in Vrystaat weer in die oog

Volgens ‘n advertensie in Volksblad word openbare verhore op 6 Oktober en 11 Oktober gehou om oor die naamsveranderinge van onderskeidelik Kroonstad en Petrus Steyn te besin.

Die advertensie is deur die “LUK” vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, mnr. Dan Kgotule geplaas.

Dit is die jongste verwikkeling na groot omstredenheid toe die voorneme om Kroonstad se naam te verander, voorheen slegs in ‘n Engelstalige koerant met ‘n klein sirkulasie geplaas was, en belanghebbendes per toeval van die verwikkelinge verneem het.

Volgens die jongste advertensie is dit nie net die dorpsname wat vir verandering geoormerk word nie, maar ook straatname in die munisipaliteite. Kroonstad maak saam met Viljoenskroon deel van die Moqhaka-munisipaliteit uit. Dit is uit die konteks nie duidelik of Viljoenskroon se straatname ook nou in die slag kan bly nie. Dieselfde geld vir Petrus Steyn wat saam met Reitz, Arlington en Lindley deel van die Nekotoane-munisipaliteit uitmaak.

Kroonstad was pas twee keer dae lank wens gebrekkige instandhouding sonder elektrisiteit, en verskeie kriminele klagtes is al teen die munisipaliteit gelê oor die wyse waarop riool verwerk word, en onder meer rou in die Valsrivier beland.

Opposisiepartye en belangegroepe het hulle al by herhaling teen planne vir naamsveranderinge te velde getrek wat miljoene rande sal kos. Die ANC word daarvan beskuldig dat dit naamsveranderings probeer deurvoer om die aandag af te lei van die party se onvermoë om behoorlike dienslewering te verseker.

Herman Toerien