Subscribe by Email

Afrikaanse plekname het soms Koisan-herskoms, sê professor

Die bekende Duiwelspiek in Kaapstad kry toe nie sy naam van Van Honk en sy pyp nie. Dit is een van die voorbeelde waar ‘n Afrikaanse pleknaam ‘n klanknabootsing is van oorspronklike Koisanwoorde, sê prof. Peter Raper

Ereprofessor in die Departement Linguistiek en Taalpraktyk. Raper het die sluier gelig oor die jongste pleknaamprojek waarmee hy besig is, “From Stone Age to GPS: The fourth edition of the South African Place Names Dictionary”.

Die Sanwoord vir wind is “duivi”, en Duiwelspiek het aanvanklik as “Windberg” of “de Wind” bekend gestaan, voor die klank van die Sanwoord hiervoor tot “Duiwepiek” en “Duiwelspiek” vervorm het.

Daar is voorheen aangeneem dat al die Afrikaanse plekname deur die Afrikaner-volk gegee is, en dat die verandering van hierdie plekname met die mandaat van die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name (SAGNR) ooreenkom. Volgens prof. Raper onthul diepgaande navorsing egter dat ’n noemenswaardige hoeveelheid plekname in werklikheid oorspronklike San-name is wat in Afrikaans, Khoi en die Bantoe-tale vertaal of vervorm is.. Gegewe die grondwetlike bepaling dat geen kulturele groep se nalatenskap verwyder mag word nie, bevraagteken hierdie navorsing die werkswyse van die SAGNR.

Nog Afrikaanse voorbeeld wat prof. Raper uitwys, is Hoedjiesbaai en Hoedjiespunt, waar die woord vir vuur, “uki”, na “hoedjie” vervorm is. Swakopmund se naam is ’n samestelling van “xwaka” (renoster) en “op” / “ob” (rivier).

Ook swart tale het sekere plekname uit oorspronklike Santale vervorm, waarvan daar 26 bestaan het. Dit sluit Tshwane en Mangaung in.

Prof. Raper se werk word wyd in wêreldkongresse aangehaal waar mense hulle beywer vir die behoud van ou, inheemse plekname. Sy jongste lesing het deel uitgemaak van die kongresprogram van die Derde Internasionale MIDP IV-simposium wat op die QwaQwa-kampus plaasgevind het. Die MIDP (Multilingual Information Development Programme) is ’n projek wat deur die Provinsie Antwerpen in België geborg word. Die tema vir vanjaar se simposium was “Meertaligheid vir Bemagtiging” en is aangebied in samewerking met die Universiteit van Antwerpen.

  • Dr. Johan Loock, voormalige lid van die Vrystaatse pleknamekomitee het voorheen by ’n vergadering van die Vrystaatse pleknamekomitee daarop gewys dat die Vrystaat gelukkig is dat die teenwoordigheid van Griekwas en Korannas in die provinsie ’n taalbrug kon vorm sodat ons vandag weet wat baie oorspronklike Koi- en Sanname vir plekke en riviere, soos die Sandrivier is.
  • Klankvervorming het ook uit ander tale plaasgevind. Een van die plekname wat vir verandering oorweeg word, is Clocolan. Die Sothonaam is Hlohlowane, en met die regte uitspraak is daar ‘n duidelike verband. Volgens oorlewering is Hlohlowane afgelei van die geluid wat die wind deur riete of lang gras maak.
  • Prof. Pieter Labuschagne het in ‘n studie wat as brief in Volksblad geplaas is, uitgewys dat die naam Bloemfontein nie van die Brits-egpaar se blomme by die fontein afgelei kon wees nie, omdat die historikus, Theal McCall reeds na die naam verwys het voor die egpaar hulle daar gevestig het. McCall self het die naam toegeskryf aan die Korannaleier, Jan Bloem, wat ‘n kleurvolle lewe weerskante van die gereg gelei het.

 

 

Herman Toerien