Subscribe by Email

Afriforumnuus

AfriForum het vandag ʼn vyfpuntplan vir die publiek se deelname aan sy veldtog teen die eensydige voorvertelling van die geskiedenis bekendgestel. Die vyfpuntplan is grootliks daarop gerig om die veldtog op sosialemedia-netwerke te dryf.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het beklemtoon dat die veldtog doelbewus opgestel is om deur middel van sosiale media gevoer te word. Daarom word die publiek nie gevra om op 28 Februarie fisies saam met AfriForum en die betrokke kunstenaars na die Uniegebou te stap nie, maar wel om deur middel van sosiale media aan die staptog deel te neem deur die nuus en vordering van die staptog op Facebook te deel en op Twitter te hertwiet.

AfriForum se ope brief aan die staatspresident wat in die vorm van ʼn video op dié organisasie se webblad geplaas is, het binne twee dae meer as 20 000 kyke op YouTube ontvang en word aangedui as een van die video’s wat die afgelope week die meeste in Suid-Afrika gekyk is. Die kunstenaars, Steve Hofmeyr, Gerhard Steyn, Adam Tas, Jakkie Louw, Gerrie Pretorius en Charles Smidt van die musiekgroep Beeskraal, verskyn op die video saam met voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), lede van die publiek en verskeie woordvoerders vanuit die burgerlike samelewing.

Die vyfpuntplan wat die publiek ter ondersteuning van die veldtog kan uitvoer, is soos volg:

1. Kyk die “Ons was daar”-video op AfriForum se webblad of YouTube en moedig jou vriende aan om dit ook te doen.

2. Registreer jou betrokkenheid by die veldtog by www.afriforum.co.za/onswasdaar.

3. Sluit aan by AfriForum of enige van die kunstenaars in die video se Facebook- of Twitter-rekeninge en bly op hoogte van die veldtog se vordering.

4. Koop die boek, Ons was daar, en vertel vir minstens twee persone die ware weergawe van die geskiedenis van die Grensoorlog.

5. Neem op 28 Februarie deur middel van sosiale media aan die staptog na die Uniegebou deel deur die opdaterings wat AfriForum en/of die deelnemende kunstenaars op Facebook en Twitter maak, te deel en te hertwiet.

Roets het bygevoeg dat na raming 300 000 mense deur middel van sosiale media aan die staptog gaan deelneem.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het die vergrype wat by die Kommando-korps se sogenaamde opleidingskampe plaasvind, ten sterkste veroordeel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit immoreel en onverskoonbaar dat kinders mishandel en blootgestel word aan die verdraaide rassistiese denkraamwerk van ʼn klein groepie randfigure.

Die oorgrote meerderheid Afrikaners is volgens Kriel gematigde en beskaafde mense wat trots is op hulle kulturele-identiteit, maar terselfdertyd lede van ander kultuurgemeenskappe respekteer. “Dit is jammer dat ʼn klein groepie randfigure se optrede telkens gebruik kan word om Afrikaners in ʼn slegte lig te probeer stel. Die feit dat Frans Jooste van die Kommando-korps se uitsprake met soveel effektiwiteit die slegste moontlike stereotipe van Afrikaners probeer bevestig, laat mens amper wonder of Jooste doelbewus daarop uit is om Afrikaners in ʼn slegte lig te stel,” het Kriel bygevoeg.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof het die Universiteit van Pretoria (UP) se besluit om ’n herverkiesing vir dié universiteit se studenteparlement uit te roep, vandag ongeldig verklaar en beslis dat UP ook AfriForum Jeug se koste vir hierdie aansoek moet dek. Die hof het verder beslis dat die uitslae van die studenteparlementsverkiesing wat op 8 September 2011 gehou is, nou bekend gemaak moet word en dat ʼn nuwe studenteraad binne 14 dae in terme van hierdie uitslae gekonstitueer moet word.

AfriForum Jeug het die hofaansoek gebring nadat UP besluit het om die verkiesing ongeldig te verklaar en sy eie studenteraad aan te stel. Die uitspraak berus onder meer daarop dat die universiteit op onregmatige wyse by die proses ingemeng het, nadat die ANC-geaffilieerde studente-organisasie SASCO ’n dreigbrief aan die universiteit gestuur het om nie die uitslae bekend te maak nie.

Nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, het die uitspraak verwelkom en dit as ’n oorwinning vir studente beskryf. “AfriForum Jeug het sy doel bereik om studente se stem terug te besorg. Dit het nou tyd geword vir UP en alle studente-organisasies om saam te kom en te sorg dat hierdie uitspraak positief aangewend word deur so vinnig as moontlik ’n legitieme studenteparlement, soos wat deur die studente verkies is, te konstitueer.”

Regter Rabie het sy bevel vandag aan die hof voorgelees en die uitspraak aan die partye beskikbaar gestel. AfriForum Jeug sal die uitspraak bestudeer.

“Hierdie is ’n bewys dat studente wel sukses kan behaal en hulle universiteit ’n beter plek kan maak, wanneer hulle vir hulle regte opstaan en daarin volhard,” het Oberholzer gesê.