Subscribe by Email

Afriforum waarsku oor matriekuitslae

AfriForum Jeug se prokureurs het vandag ’n aanmaningsbrief aan die departement van basiese onderwys gestuur waarin hulle eis dat die departement alle uitstaande matrieksertifikate binne twee weke beskikbaar moet stel. Sommige leerlinge wag al jare om hul matrieksertifikate te ontvang.

“Die aanmaningsbrief wys die departement daarop dat hulle leerlinge regstreeks van hulle grondwetlike reg tot billike administrasie ontneem. Hulle versuim om matrieksertifikate uit te reik, is onwettig,” sê Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het die afgelope week leerlinge uitgenooi wat nie hulle matrieksertifikate ontvang het nie, om hulle besonderhede op www.afriforumjeug.co.za te plaas. AfriForum Jeug tree nou op namens Amy Beukes, ’n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, en talle ander leerlinge uit onder meer die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng.

“Die departement van basiese onderwys is gelas om werk daarvan te maak om dié leerlinge se sertifikate binne twee weke uit te reik,” sê Oberholzer.

“Leerlinge ly erge verliese. Sommige studente is alleen oorsee is en kan nie werk of studeer voordat hulle ’n matrieksertifikaat ontvang het nie. Ouers vertel dat hulle nie hond haaraf maak by die departement nie. Hulle probeer herhaaldelik om die sertifikate uit die departement te kry, maar vergeefs. Werknemers van die departement het nou glad aan hulle gesê dat dit eenvoudig nie moontlik is om hulle kinders se sertifikate uit te reik nie.”

Talle ouers het verneem dat die departement van basiese onderwys nie vir Umalusi, die gehalteversekeringsliggaam, betaal het nie. Daarom kom hulle elke keer voor ’n toe deur te staan.

Een van die leerlinge, George McDonald, wag reeds sedert 2009 vir sy matrieksertifikaat omdat die departement glo een van sy vraestelle verloor het. ’n Ander leerling, Amorecé Müller, wag weens ’n spelfout met haar naam en van sedert 2008 vir haar geldige matrieksertifikaat..

“Die departement van basiese onderwys se dienslewering aan die gemeenskap het ‘n punt bereik waar hy heeltemal oneffektief is en verder lamgelê word deur sy eie onvermoë om klagtes te hanteer,” sê Oberholzer.