Subscribe by Email

AfriForum vries grondgrypers se bankrekenings

Die burgerregte-inisiatief, AfriForum, het gister in die Noord-Gautengse hooggeregshof ʼn interdik teen Standard Bank en FNB verkry om twee bankrekenings waarin die opbrengste van die onwettige grondverkope aan plakkers in die Wallmansthal-omgewing gedeponeer word, te vries.

Dié aksie volg nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn korrupte oudpolisieman, Richard Makene, die afgelope maande onverpoos “erwe” in ʼn wildbewaringsgebied, wat geoormerk is om aan die Wallmansthal Communal Property Association (WCPA) oorgedra te word, teen R400 per erf aan grondbesetters, verkoop. Besetters is versoek om die geld in twee bankrekenings by onderskeidelik Standard Bank en FNB te deponeer.

AfriForum is deur sy plaaslike tak asook deur die WCPA genader vir regshulp nadat die staat reeds sedert September verlede jaar sloer met die afsetting van onwettige plakkers. Aanduidings is tans dat dienende polisielede deelneem aan die onwettige verkoop van erwe.

Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, is dit duidelik dat die huidige grondbesettingsaksie by Wallmansthal veel meer is as ʼn soeke na huisvesting. Die “plakkers” daag in duur motors by die perseel op en aanduidings is dat die meeste van die huidige besetters eerder spekulante in ʼn onwettige geldmaakskema is. Juis daarom het AfriForum besluit om sy regstryd toe te spits op die hart van die skema, naamlik die bankrekenings waarin die onwettige opbrengste ontvang word.

Die proses sal nou opgevolg word deurdat Standard Bank, FNB en die rekeninghouers geleentheid sal kry om aan die hof te meld waarom die voorlopige interdik wat verleen is, nie finaal gemaak moet word nie.