Subscribe by Email

AfriForum vra VN-menseregtegesant se hulp na bewyse dat die polisie Madonsela intimideer

AfriForum het ʼn dringende skrywe aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale gesant vir menseregte beskermers, Margaret Sekaggya, gestuur, waarin sy versoek word om by die Suid-Afrikaanse regering aan te dring daarop dat die regering die Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, teen polisie-intimidasie moet beskerm. AfriForum se optrede volg nadat die nuusblad The Star vandag dokumente gepubliseer het wat bewys dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wel met ʼn ondersoek teen Madonsela besig is.

Die VN se spesiale gesant vir menseregte beskermers het in terme van die VN se “Deklarasie op Menseregte Beskermers” ʼn mandaat om wêreldwyd in te gryp wanneer “menseregte beskermers” geïntimideer, geteister en beswadder word. Aangesien die VN se definisie van “menseregte beskermers” ook diegene insluit wat gesonde regeringspraktyke wil verseker en magsmisbruik en korrupsie beveg, val dit binne die VN-gesant se mandaat om in te gryp om te verseker dat die Suid-Afrikaanse Openbare Beskermer teen polisie-intimidasie beskerm word.

Die VN-gesant is volgens haar mandaat by magte om ʼn dringende pleidooibrief aan die Suid-Afrikaanse regering te stuur om te vra dat stappe geneem moet word ter beskerming van die OB.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie besluit om internasionale hulp in te roep, omdat die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om die intimidasieveldtog en polisie-ondersoek te ontken, eerder as om daadwerklike stappe te neem om die OB teen polisie-intimidasie te beskerm en op te tree teen diegene wat die OB teiken.

AfriForum het die VN se gesant volgens Kriel onder meer ingelig dat die huidige polisie-ondersoek teen Madonsela net een aspek van ʼn meer omvattende intimidasieveldtog is, wat daarop gerig is om te verhoed dat die OB voortgaan om die onregmatige toekenning van huurkontrakte in die SAPS oop te vlek. “Die VN-gesant is ook daarop gewys dat die SAPS op 3 Maart vanjaar ʼn onregmatige klopjag op die OB se kantoor uitgevoer het en dat die vermoede bestaan dat onregmatige toegang tot die rekenaar van ʼn senior ondersoekbeampte van die OB se kantoor verkry is. Die VN-gesant is verder ingelig dat dit nie die eerste keer is wat die SAPS diegene probeer intimideer wie se optrede die SAPS nie aanstaan nie. Die joernalis, Mzilikazi wa Africa, is byvoorbeeld verlede jaar gearresteer binne enkele dae nadat hy ʼn kritiese artikel oor generaal Cele geskryf het,” het Kriel bygevoeg.