Subscribe by Email

AfriForum vra Phiyega se steun vir veldtog teen plaasmoorde

AfriForum het die nuwe nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, vandag versoek om haar steun toe te sê aan dié organisasie se veldtog om plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad te laat verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid te laat skep.

In ’n skrywe, wat vandag per hand by Phiyega se kantoor oorhandig is, verduidelik Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dat Suid-Afrika grootliks van ’n florerende landbousektor afhanklik is, maar dat die aanvalle op boere ’n ernstige gevaar inhou vir almal wat in landelike gebiede woon. “Ons het geen behoefte om die moorde op boere te verhef bo enige ander moorde nie. Die realiteit is egter dat moorde op boere nie net disproporsioneel tot die nasionale moordsyfer is nie, maar dat plaasmoorde met growwe en onmenslike brutaliteit gepaardgaan,” het Roets gesê.

AfriForum het reeds ’n brief oor die kwessie aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, geskryf en beoog om binnekort weer met beide Mthethwa en Phiyega in verbinding te tree. AfriForum is besig om, met die hulp van verskeie kundiges, ’n omvattende verslag oor die omvang en impak van plaasaanvalle op te stel. Die verslag sal aan Mthethwa en Phiyega oorhandig word. Verder beoog AfriForum om sy veldtog teen plaasaanvalle in hierdie maand te verskerp deur ’n platform te skep waardeur die publiek betrokke kan raak om druk op die regering te plaas en bygestaan kan word om beter na hul eie veiligheid om te sien. Meer inligting hieroor sal binnekort bekendgemaak word.

’n Eksemplaar van die Engelse weergawe van die boek Treurgrond is saam met die brief aan Phiyega oorhandig. Die boek bevat die besonderhede van 2 617 plaasaanvalle en 1 445 plaasmoorde wat oor ’n tydperk van 20 jaar in Suid-Afrika gepleeg is.