Subscribe by Email

AfriForum stig ondersoekeenheid teen korrupsie en ander misdade

Die burgerregte-waghond AfriForum het sy eie ondersoekeenheid gestig om korrupsie en ander misdade wat van openbare belang is, te ondersoek. Dié ondersoekeenheid sal veral fokus op gevalle waar korrupsie met belastingbetalersgeld gepleeg word, asook gevalle waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hul ondersoekplig nie na behore nakom nie, hul mag misbruik en/of onregmatige arrestasies uitvoer. Die AfriForum-ondersoekeenheid beplan ook om privaatvervolgings in te stel in sake waar die staat weier om verdagtes te vervolg, ten spyte van genoegsame bewyse vir vervolging.

Nantes Kelder, wat voorheen ʼn speurder by die SAPD en spesiale ondersoekspan vir die Nasionale Direkteur vir Openbare Vervolging was en ook by die Regulerende Owerheid vir die Private Sekuriteitsbedryf (PSIRA) gewerk het, sal aan die hoof van die AfriForum-ondersoekeenheid staan. Kelder sal sy huidige pos as AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid ontruim om voltyds sy aandag aan die ondersoekeenheid se werksaamhede te wy. Die AfriForum-ondersoekeenheid sal ook op ʼn ad hoc-basis gebruik maak van die dienste van ʼn wye reeks forensiese spesialiste.

Volgens Kelder is die stigting van die AfriForum-ondersoekeenheid genoodsaak deur die feit dat lede van die publiek AfriForum toenemend begin nader het met inligting rakende korrupsie in die regering en klagtes rakende laksheid en magsmisbruik deur lede van die SAPD.

Kelder het daarop gewys dat die AfriForum-ondersoekeenheid nie daarop gemik is om die SAPD se rol oor te neem nie, maar om aanvullend tot die SAPD se werksaamhede op te tree. Volgens Kelder sal die bewyse wat sy eenheid in misdaadondersoeke bekom, aan die SAPD gegee word om te help om toe te sien dat oortreders vervolg word.

“AfriForum sal graag saamwerk met toegewyde polisielede wat hul werk goed doen ten spyte van die groep vrot appels wat ook in die SAPD voorkom,” het Kelder gesê. Volgens Kelder is privaatvervolging die laaste uitweg, wat slegs gevolg sal word indien die SAPD en nasionale vervolgingsgesag nie hul verpligtinge nakom nie.

Die AfriForum-ondersoekeenheid is reeds besig met sy eerste ondersoek. Die ondersoek fokus op die bedrywighede van On Point Engineers, ʼn maatskappy waarvan Julius Malema se Ratanang-familietrust ʼn aandeelhouer is en wat by die toekenning van tenders in Limpopo betrokke is.

Die AfriForum-ondersoekeenheid maak môre tydens ʼn mediakonferensie nuwe inligting bekend wat tydens die ondersoek na On Point en Julius Malema bekom is.