Subscribe by Email

AfriForum stel Esmarie Prinsloo as hoof van mediaskakeling aan

AfriForum het die TV-joernalis, Esmarie Prinsloo aangestel om voortaan dié organisasie se skakeling met die media te behartig. Prinsloo sal met onmiddellike ingang as AfriForum se Hoof van Mediaskakeling dien en is spesifiek aangestel met die taak om doeltreffende kommunikasie tussen AfriForum en die media te bevorder. Tot en met haar aanstelling by AfriForum, was Prinsloo werksaam as TV-joernalis by die SABC se nuuskantoor in Pretoria.

Prinsloo sal in haar nuwe pos help toesien dat AfriForum altyd toeganklik is vir enige medianavrae en as kontakpersoon dien met wie die media in verbinding kan tree. Sy sal ook by geleentheid as woordvoerder vir AfriForum optree.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat AfriForum opgewonde is oor hierdie aanstelling en trots is om iemand van Prinsloo se gehalte in hul midde te hê. Volgens Kriel maak die sterk groei in ledetal wat AfriForum die afgelope twee jaar beleef het, dit moontlik om AfriForum se aktiwiteite aansienlik uit te brei en sal Prinsloo ʼn belangrike rol hierin speel. “Prinsloo se ervaring en kundigheid sal ook handig te pas kom in AfriForum se strategiese besluit om toenemend van video-insetsels op sosiale media platforms soos YouTube gebruik te maak om die organisasie se standpunte plaaslik en internasionaal te stel,” het Kriel bygevoeg.

Prinsloo sê dit is vir haar ’n voorreg om deel te word van ’n organisasie wat die uitbouing van burger-, minderheids-, mense- en grondwetlike regte in Suid-Afrika bevorder. “As joernalis het ek voortdurend daarna gestreef om ’n verskil te maak in die samelewing en in die lewensstandaard van ons land se mense. Deur betrokke te raak by AfriForum, sit ek dié strewe voort en ek ag my aanstelling as ’n welkome, nuwe uitdaging wat ek met albei hande sal aangryp.”