Subscribe by Email

AfriForum staan grondgrypslagoffers by

AfriForum gaan regshulp verleen aan die slagoffers van ʼn Zimbabwe-styl-grondbesetting wat tans by Wallmansthal, noord van Pretoria, plaasvind.

Die burgerregtegroep is deur sy plaaslike tak en die Wallmansthal Communal Property Association, wat die regmatige aanspraakmakers is op duisende hektaar grond wat tans aan die staat behoort, om hulp genader.

Die grootskaalse besetting van grond en verwoesting van ʼn wildbewaringsgebied deur volgelinge van ʼn oudpolisiekaptein, Richard Makene, wat weens bewerings van korrupsie geskors is, het die naweek ernstige afmetings aangeneem. Die toevloei van grondbesetters (van wie die meeste in luukse voertuie opgedaag het) het tot opeenhopings op die N1-hoofweg gelei.

Makene is in 2008 uit die polisiediens ontslaan nadat hy betrap is dat hy ʼn skaap as omkoopgeskenk aanvaar het en mobiliseer sedertdien mense om die grond rondom Wallmansthal onwettig te beset. Dit blyk dat hy die grond, wat nie aan hom behoort nie, aan “beleggers” verkoop en dat die “beleggers” beplan om die grond teen reuse-winste aan armes te verkoop of te verhuur. Die besetting van die grond word dus nie deur huislose armes gedryf nie, maar deur welvarende, invloedryke persone.

Makene se optrede is strydig met die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond en die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond. Die polisie is egter traag om die plaaslike gemeenskap en die Communal Property Association by te staan of hulle klagtes te ondersoek.

AfriForum se advokate werk tans aan hofaansoeke om mense wat deur die grondbesetting geraak word, by te staan om die staat te dwing om in te gryp.