Subscribe by Email

AfriForum spreek VN-konferensie toe oor Julius Malema en rassespanning in SA

AfriForum het vandag ʼn konferensie van die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad toegespreek oor Julius Malema se haatspraak. Afgevaardigdes by die konferensie het ook hulle kommer oor die situasie in Suid-Afrika uitgespreek en gesê dat die hofsaak teen Malema, op 11 April 2011 in die Suid-Gautengse hooggeregshof begin, leiding moet gee vir die bevordering van vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika.

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het die konferensie ingelig van Malema se argument dat Suid-Afrika se geskiedenis hom carte blanche gee om liedere te sing waarin haat teen wittes aangemoedig word, ten spyte daarvan dat Malema se volgelinge deel van die post-1994-jeug is en dat die ANC reeds 17 jaar gelede die regerende party geword het.

In reaksie hierop het Doudou Diène, die konferensiemoderator en die VN se voormalige Spécial Rapporteur oor hedendaagse vorme van rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verbandhoudende vorme van onverdraagsaamheid, gesê dat rassespanning en onverdraagsaamheid in Suid-Afrika steeds ʼn probleem is wat aandag moet kry.

Ander afgevaardigdes het bygevoeg dat daar ʼn gebrek aan politieke leierskap in Suider-Afrika is. Daar is spesifiek ook verwys na rassistiese uitlatings wat deur die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, gemaak is en die feit dat ander regeringsleiers nie bereid is om hom daaroor voor stok te kry nie.

Die konferensie is geskeduleer vir 6 en 7 April 2011 en vind plaas in Nairobi, Kenia. Dit handel oor die voorkoming van aanhitsing tot haat op grond van nasionaliteit, ras en geloof.