Subscribe by Email

AfriForum oorhandig tienpuntplan aan Minister van Waterwese en Omgewingsake

Vanaf Solidariteit se webwerf:

Die burgerregte-inisiatief AfriForum en die Beeskraal-sanger, Charles Schmidt, het vandag ʼn memorandum by die ministeriële kantoor vir Waterwese en Omgewingsake afgegee.  In die memorandum word tien knelpunte oor omgewingsbewaring geïdentifiseer en praktiese voorstelle gemaak.  Daar word onder meer gevra vir groter samewerking met die departement van Minerale Hulpbronne, veral wat die regulering van mynbou-aktiwiteite betref.

AfriForum se woordvoerder oor Omgewingsake, James Kemp, sê dit is belangrik dat ʼn forum geskep word waar verteenwoordigers van die departement van Waterwese en Omgewingsake en die departement van Minerale Hulpbronne gemeenskaplike brandpunte kan bespreek.

“Mynmaatskappye het ʼn groot invloed op die omgewing en dikwels ook op gemeenskappe se drinkwater.  Dit is dus noodsaaklik dat alle belanghebbendes by die regulering van mynbou-aktiwiteite betrokke is,” sê Kemp.

Die Beeskraal-sanger, Charles Schmidt, sê dit is belangrik dat die burgerlike samelewing ook betrokke raak by omgewingsbewaring deur, byvoorbeeld, herwinningsprojekte op die been te bring of staatsinstellings verantwoordelik te hou vir hulle optrede.

Die oorhandiging van die memorandum val saam met die internasionale inisiatief Aardedag.  Meer as ʼn miljard mense in 190 lande neem hieraan deel, wat dit die grootste niegeestelike burgerlike geleentheid in die wêreld maak.