Subscribe by Email

Afriforum oorhandig regsmening oor grondwetlikheid van inligtingswets

AfriForum het vandag ’n formele regsmening, waarin die redes vir ongrondwetlikheid van die voorgenoem Wet op die Beskerming van Inligting uiteengesit word, aan die ad hoc portefeuljekomitee wat met dié konsepwet bemoei is oorhandig.

AfriForum het ʼn senior advokaat wat in mediareg spesialiseer opdrag gegee om die regsmening op te stel. Dit is die eerste formele regsmening wat hieroor opgestel is en luidens dié mening is daar verskeie redes waarom die konsepwet erg ongrondwetlik is, ten spyte van die toegewings wat onlangs deur die ANC in hierdie verband gemaak is.

Saam met die regsmening het AfriForum ʼn memorandum aan die portefeuljekomitee oorhandig. Die memorandum bevat ’n opsomming van die belangrikste redes waarom die konsepwet ongrondwetlik is. “Indien elkeen van hierdie aspekte nie aangespreek voordat die wet goedgekeur word nie sal die wet nie die toets vir grondwetlikheid slaag nie en sal AfriForum sorg dat die Grondwetlike Hof hieroor uitspraak lewer,” het Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum gesê. Die belangrikste besware teen die wet sluit die volgende in:

Die konsepwet is in geheel vaag, ingewikkeld en moeilik verstaanbaar.
Ingevolge die bewoording van die wet sal fluitjieblasers slegs in teorie beskerm word, maar sonder enige praktiese effek.
Die kriteria vir klassifikasie van inligting is uiters vaag en laat ruimte vir onkonsekwente toepassing.
Die wet in sy huidige vorm sal verhoed dat die media sy demokratiese plig om as waghond op te tree kan uitvoer, omrede inligting op lukraak wyse geklassifiseer kan word.

“Hierdie wet sal een klein tree vir die ANC wees, maar een reuse sprong weg van demokrasie in Suid-Afrika,” het Roets gesê. “Die wet sal veel wyer strek as die skending van landsburgers se reg op toegang tot inligting. Dit sal ook vryheid van uitdrukking, verantwoordelike regering, deursigtigheid en die stryd teen korrupsie belemmer.”

Roets het bygevoeg dat AfriForum voortaan nou by die proses betrokke sal wees om te verseker dat die regte besluite rakende hierdie konsepwetsontwerp geneem word. “Indien die staatspresident se handtekening uiteindelik op hierdie wetsontwerp geplaas word, sal AfriForum sorg dat dit ongrondwetlik verklaar word.”

Die regsmening is op aanvraag beskikbaar.