Subscribe by Email

AfriForum ondersteun Kragdag 2012

AfriForum ondersteun die Kragdag: “doen jou eie ding”-inisiatief. Hierdie jaarlikse ekspo wat by die Diamantvallei-landgoed sowat 20 km buite Pretoria plaasvind, bied die geleentheid aan entrepreneurs om omgewingsvriendelike energieoplossings te bemark.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, het Kragdag ontstaan weens Eskom se tariewe wat drasties begin styg het en omdat elektrisiteitslewering onbetroubaar geword het. “Kragdag is ’n ekspo wat doelgerig ontwikkel is om alternatiewe energieoplossings aan gewone huishoudings, hoewe- of plaasbewoners en klein ondernemings te verskaf,” sê Kleynhans.

“Daar word klem gelê op volhoubaarheid, effektiewe ontwerp om energie- en watergebruik in te perk, die benutting van alternatiewe energie, veiligheid en selfs voedselproduksie,” volgens Kleynhans.

Verskeie toepassings word jaarliks uitgestal. “Beligting, waterverhitting, alternatiewe kragopwekking, brandstofproduksie, beveiliging, waterbesparing en rioolbenutting, om slegs ’n paar te noem, word uitgestal,” sê Kleynhans.

“AfriForum gaan help met die beoordeling van die dag se produkte en sal ook kontantpryse borg,” voeg hy by.

Kragdag is ’n unieke Afrikaanse ekspo vir die hele gesin. Meer as 3 000 mense het dit verlede jaar bygewoon.

Die vierde Kragdag vind hierdie jaar op 23 Junie 2012 by die Diamantvallei-landgoed plaas. Besoek gerus www.kragdag.com vir meer inligting.