Subscribe by Email

AfriForum na VN-konferensie oor die voorkoming van haatspraak

In die lig van die haatspraak-hofstryd tussen AfriForum en Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, wat volgende week aangehoor word, sal AfriForum hierdie week verteenwoordig word by ʼn konferensie van die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad, wat spesifiek handel oor die voorkoming van die aanhitsing van haat op grond van nasionaliteit, ras of geloof.

AfriForum se nuut aangestelde adjunk uitvoerende hoof en voormalige nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Ernst Roets, sal AfriForum by die konferensie in Nairobi, Kenia op 6 en 7 April 2011 verteenwoordig.

Die bywoning van hierdie konferensie maak deel uit van AfriForum se veldtog om skakeling met die VN sowel as buitelandse en internasionale organisasies te bevorder. Die konferensie sal deur verskeie kenners toegespreek word en Roets sal gedurende die besprekingsessies van die geleentheid gebruik maak om die afgevaardigdes in te lig van die plaasmoordkrisis in Suid-Afrika en die haatspraak-hofstryd teen Malema.

“Die stryd teen plaasmoorde en haatspraak is een van AfriForum se grootste prioriteite. Ons sal selfs tot op internasionale vlak teen plaasmoorde en Malema se haatspraak baklei. Afgesien van die regstryd sal AfriForum ook spesifieke klem op bewusmaking en skakeling met die buiteland plaas,” het Roets gesê.

Roets vertrek more-oggend. Nuusflitse oor sy besoek sal op Twitter en Facebook verskyn.

Ernst Roets

Adjunk uitvoerende hoof: AfriForum

082 264 0953

ernst@afriforum.co.za