Subscribe by Email

Afriforum loof sensus oor Afrikaans

Met verwysing na Sensus 2011 het die burgerregte-inisiatief AfriForum ʼn beroep op sy lede en die publiek gedoen om die sensus te ondersteun. Alle aksies wat met die verwesenliking van burgerregte verband hou, vereis statistiek oor die aard van die burgerlike samelewing en data wat deur die sensus ingesamel word, is die vernaamste, erkende bron van sodanige inligting. Dit is daarom belangrik dat die inligting wat deur die sensus ingesamel word, so volledig en akkuraat as moontlik is.

Volgens Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, bedank AfriForum Statistiek Suid-Afrika vir ʼn omvattende poging om te verseker dat Sensus 2011 meertalig plaasvind en vir deelnemers in alle landstale, insluitend Afrikaans, toeganklik is. “Tans moet die staat met regsaksies gedreig word om te keer dat dit ongrondwetlik, eentalig in Engels diens lewer. Selfs die nuwe konseptaalwet is ʼn swak poging om die situasie te besleg en sal in sy huidige vorm niks verbeter nie. Onder hierdie omstandighede is Sensus 2011 se pogings om meertalig diens te lewer, dus besonder welkom,” het Bailey gesê.

AfriForum het verder ʼn beroep op alle Afrikaanssprekendes gedoen om te vra dat Afrikaanse sensusvorms aan hulle gegee word. “Moeite is gedoen om te verseker dat die vorms in Afrikaans beskikbaar is en hoe meer Afrikaanse vorms gebruik word, hoe meer is dit bewys van die behoefte aan Afrikaanse dienslewering in die land,” het Bailey bygevoeg. Dit geld ook vir die nege ander inheemse Suid-Afrikaanse landstale. Sy het mense wat sterk oor die toekoms van hulle moedertaal voel, herinner om hulle taalvoorkeure baie duidelik op die sensusvorm aan te dui. “Sodoende kom jy nie alleen jou wetlike verpligting om aan die nasionale sensus deel te neem, na nie, maar jy neem ook ʼn groot stap ter bevordering en beskerming van jou taal!”