Subscribe by Email

AfriForum Jeug sê departement van basiese onderwys die stryd aan

AfriForum Jeug beplan om die departement van basiese onderwys die stryd aan te sê en in te tree namens bekommerde studente wat na selfs drie jaar steeds op hulle matrieksertifikate wag. Dit kom nadat daar in ʼn Afrikaanse dagblad berig is dat Amy Beukes, ʼn derdejaarstudent in stads-en-streekbeplanning aan die Universiteit van Pretoria, vier jaar nadat sy gematrikuleer het steeds op ʼn geldige matrieksertifikaat wag.

“Studente se reg tot billike administrasie word ernstig geskend. Die departement van basiese onderwys is besig om jongmense se toekoms omver te gooi,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Die meerderheid van die studente wat geraak word, is studente wat gekombineerde sertifikate moet ontvang vir aanvullende eksamens wat hulle afgelê het. Daarbenewens is ook berig dat die dilemma met programmatuur- of inligtingstegnologieprobleme in die departement verband hou.

“Ons hoop om soveel as moontlik studente te kry wat, soos Amy Beukes, moeg is om vir hulle matrieksertifikate te wag. Ons sal dan ʼn aanmaningskrywe van ons prokureurs aan die departement rig wat hulle twee weke tyd sal gee om die sertifikate uit te reik,” volgens Oberholzer.

“AfriForum Jeug beoog om selfs ʼn hofaansoek teen die departement te bring indien die studente nie binne die vasgestelde tyd hulle sertifikate ontvang nie,” het hy bygevoeg.

Studente wat vir hulle matrieksertifikate wag, word genooi om ʼn groepaksie van stapel te stuur deur hulle inligting op die webtuiste, www.afriforumjeug.co.za, aan AfriForum Jeug deur te gee.