Subscribe by Email

AfriForum Jeug oorweeg regstappe teen UP ná dreigemente oor graffiti-muur

AfriForum Jeug oorweeg regstappe teen die Universiteit van Pretoria (UP) nadat dié jeugorganisasie op kampus met geweld gedreig is terwyl hulle besig was om ʼn advertensie vir hul organisasie op die UP se graffiti-muur te verf.

Die voorval het gisteraand plaasgevind toe AfriForum Jeug se UP-tak tydens ʼn bemarkingsgeleentheid op die UP se hoofkampus vergader het om ʼn advertensie op die graffiti-muur te verf.

“Ons het om 19:00 by die graffiti-muur bymekaargekom om ʼn wit agtergrond en ons embleem op die muur te verf,” het Nikke Strydom, takvoorsitter van AfriForum Jeug-UP, gesê. “Ons was die derde groep wat die muur op die betrokke dag geverf het en kampus-sekuriteit was die hele tyd daarvan bewus.

“Nadat ons ongeveer drie ure lank besig was, het ons AfriForum se naam op die muur geverf. Byna onmiddellik nadat ons naam op die muur verskyn het, het lede van sekuriteit ons verbied om enigiets verder op die muur te verf. Hulle het ook geëis dat ons AfriForum se naam van die muur moet verwyder.”

Volgens kampus-sekuriteit moes AfriForum Jeug eers toestemming gekry het om op die muur te verf. Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug en president van die UP se Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), het die studentedekaan, prof. McGlory Speckman, tydens die voorval gebel.

“Prof. Speckman het gesê hy is daarvan bewus dat ons eintlik die muur mag verf, maar dat hy nie bereid is om kampus-sekuriteit daarvan in kennis te stel nie,” het Oberholzer gesê.

Die graffiti-muur is vir alle studente se gebruik daargestel en toestemming om op die muur te verf, is nog nooit voorheen vereis nie. “Slegs boodskappe wat op diskriminasie of haatspraak neerkom, kan van die muur verwyder word,” het Strydom gesê.

AfriForum Jeug se lede het kampus-sekuriteit in kennis gestel dat hulle van voorneme is om slegs die embleem (wat reeds driekwart klaar geverf was) klaar te verf, waarna hulle die kampus sou verlaat sonder om die bewoording van die advertensie te verf. Daarbenewens sou hulle die volgende dag ʼn toestemmingsbrief van die studentedekaan bekom.

“Nadat ons die sekuriteitsbeampte by die muur daarvan in kennis gestel het, het ons gehoor hoe ʼn senior sekuriteitsbeampte oor die radio skreeu dat die sekuriteitsbeampte geweld teen ons moet gebruik. Aangesien die meeste van ons wat daar was, meisies is, het ons uit vrees vir ons veiligheid die kampus onmiddellik verlaat,” het Strydom gesê.

Nadat die studente die perseel verlaat het, het kampus-sekuriteit die halfvoltooide advertensie op die muur doodgeverf.

“Ons lede voel erg geïntimideer en ons beskou kampus-sekuriteit se optrede as ʼn growwe skending van hul reg op gelykheid, vryheid van uitdrukking en ʼn veilige omgewing. As studente-organisasie wat ons vir die beskerming van studenteregte beywer, sal ons regstappe teen die UP in hierdie verband neem,” het Strydom gesê.