Subscribe by Email

AfriForum Jeug oorweeg regsaksie teen Kovsies oor diskriminasie

AfriForum Jeug het vandag ʼn prokureursbrief aan die studentedekaan van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Rudi Buys, gestuur omdat die universiteit AfriForum Jeug al sedert Oktober 2010 verhoed om as studentevereniging op die kampus te registreer.

ʼn Studentekomitee is in Februarie 2011 saamgestel om AfriForum Jeug se affiliasie by die UV as studentevereniging te ondersoek, nadat Buys erken het dat hy subjektief teenoor AfriForum Jeug sal optree en nie van die jeugorganisasie hou nie. Die studentekomitee moes reeds teen 14 April 2011 uitspraak gelewer het oor die registrasie van AfriForum Jeug. Die komitee is saamgestel nadat AfriForum Jeug die uitslag van ʼn referendum oor die weglating van God se naam uit die UV se leuse aangekondig het. Volgens die referendum was 94,7% van die studente teen die verandering van die leuse gekant. Buys het gedreig om AfriForum Jeug se lede te laat arresteer indien hulle die uitslag aankondig of verdere aktiwiteite op die kampus hou.

Die komitee is na bewering deur Buys aangesê om vas te stel of AfriForum Jeug se sienings strook met die “ideologie” van die UV. AfriForum Jeug sou nie toegelaat word om te registreer as hulle nie dié “ideologie-toets” slaag nie.

Lede van verskeie UV-koshuise se huiskomitees het gekla dat Buys hulle teen AfriForum Jeug gewaarsku het en dat hy hulle glo verbied het om by die organisasie aan te sluit. Hy het na bewering selfs aan hulle gesê dat enige vergaderings of aktiwiteite van AfriForum Jeug in enige koshuis strafbaar sal wees en tot studente se skorsing kan lei.

Buys erken dat hy hulle teen AfriForum gewaarsku het, maar ontken dat hy hulle verbied het om aan te sluit.

Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die organisasie sal regstappe neem indien Buys nie AfriForum Jeug se registrasie voor 15 Junie afhandel nie.

“Studente moet vry wees om hulle met enige vereniging te assosieer. Onverdraagsaamheid los nie probleme op nie,” het Oberholzer gesê.

Volgens Oberholzer word studente van hul regte ontneem terwyl die universiteit ongrondwetlike reëls links en regs rondgooi. “Studente is moeg daarvoor dat besluite, soos die verandering van die universiteit se leuse en die afskaffing van koshuistradisies, eensydig en sonder deeglike konsultasie met hulle geneem word,” het Oberholzer gesê.

AfriForum Jeug het reeds die dokumente vir registrasie as ʼn studentevereniging by die UV ingehandig en het talle kere sonder sukses die kantoor van die studentedekaan geskakel om terugvoer rakende die registrasie te probeer kry. Volgens Oberholzer het Buys se kantoor sedert April alle korrespondensie van AfriForum Jeug geïgnoreer.