Subscribe by Email

AfriForum Jeug met aggressie begroet oor navrae rakende militêre opleiding

ʼn AfriForum Jeug-afvaardiging is vandag met aggressie begroet toe hulle die minister van verdediging en militêre veterane, Lindiwe Sisulu, se kantoor besoek het. Die afvaardiging het ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting versoek dat die waarheid oor die militêre opleiding van 500 rekrute wat die keer deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming opgekommandeer is, aan die publiek bekendgemaak word. AfriForum het enkele maande gelede ʼn dringende interdik teen die beoogde militêre opleiding verkry nadat dit aan die lig gekom het dat 600 rekrute wat na bewering deur die ANC-jeugliga aangewys is vir militêre opleiding by die vlootbasis in Saldanha sou aanmeld.

“’n Verteenwoordiger van die minister se kantoor het AfriForum Jeug begroet met ʼn aggressiewe houding en die versoek afgemaak as onnodig en die media se aanwesigheid veroordeel. Hy het verder gesê dat die kantoor van die minister nie tyd het om hulself aan AfriForum Jeug te verduidelik nie,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Die nuutste militêre opleiding het onder die vaandel van die National Rural Youth Service Corps plaasgevind. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, sowel as minister Sisulu, het dié opleiding, wat sewe weke duur, goedgekeur.

AfriForum Jeug het die dokument by die minister se kantoor ingedien en die ministerie is kragtens die Wet op Toegang van Inligting verplig om die waarheid aangaande die opleiding bekend te maak.

“Indien die departement dieselfde sonde in ʼn ander gestalte wil pleeg, moet die publiek daarvan weet. Die manier waarop die ministerie gereageer het, maak die opleiding van dié rekrute net nog meer verdag.

“In die dokument word onder meer inligting rakende die werwing van die rekrute, die politieke affiliasie van die rekrute, die opleidingsprogram en die samestelling van die National Rural Youth Service geëis.

“Artikel 199(7)(b) van die Grondwet stippel duidelik uit dat geen politieke party se belange deur die veiligheidsdienste bevorder mag word nie. Om te verhoed dat Suid-Afrika, soos Zimbabwe, politieke rekrute oplei en daarmee die res van die land se welsyn ondermyn, moet duidelikheid verkry word oor presies wie vir watter doel opgelei word,” het Oberholzer gesê.

AfriForum Jeug sal op grond van die inligting wat hulle van die minister se kantoor ontvang, besluit of regstappe geneem moet word.