Subscribe by Email

Afriforum-jeug looi DA-Tukkies

Die DA-studente-organisasie (DASO) se aanval op AfriForum Jeug se tak by die Universiteit van Pretoria (UP) is vreemd, aangesien DASO self tydens hul verkiesingsveldtog skuldig bevind is daaraan dat hulle die reëls van die afgelope studenteparlementsverkiesing by UP oortree het. Die klag teen AfriForum Jeug, waarna DASO in ’n mediaverklaring verwys, het slegs gehandel daaroor dat AfriForum Jeug ’n sogenaamde prosedurele reël nie nagekom het nie, deur ’n pamflet uit te deel sonder dat dit formeel deur UP goedgekeur is. UP het beswaar teen die betrokke pamflet aangeteken, aangesien daar in die pamflet na verlede jaar se verkiesingsuitslag verwys is en aangedui is watter van AfriForum Jeug se lede kandidate in die verkiesing is.

As organisasie wat voorgee om demokratiese beginsels te ondersteun, sou AfriForum Jeug van DASO verwag het om eerder te help veg vir die demokratiese reg van deelnemende organisasies om basiese verkiesingsinligting bekend te maak, soos wat AfriForum Jeug gedoen het.

Samewerking tussen opposisiegroepe by die Universiteit van Pretoria (UP) sal in die komende jaar noodsaaklik wees om te verhoed dat die ANC-jeugliga/Sasco-alliansie oorneem.

“DASO se ongegronde aanval op AfriForum speel in die hande van die jeugliga en Sasco. Ten spyte van hierdie aanval, sal AfriForum Jeug steeds voortgaan om samewerking met die onderskeie opposisiegroepe op kampus te bewerkstellig ten einde te verseker dat die ANCYL en Sasco nie beheer oor die studenteraad kry nie,” het Nikke Strydom, AfriForum Jeug se takvoorsitter by UP, gesê.

Volgens Strydom kan hulle nie kan toelaat dat kleinlike politieke aanvalle soos dié, die kampus op ’n skinkbord aan die ANCYL/Sasco-alliansie gee nie. “Indien DASO van mening is dat die vryheid en regverdigheid van ’n verkiesing belemmer word wanneer ’n deelnemende organisasie die vorige jaar se verkiesingsuitslae bekend maak of aankondig watter lede van dié organisasie aan die verkiesing deelneem, sal DASO ernstige introspeksie moet doen oor hul persepsie van vryheid en regverdigheid.”