Subscribe by Email

AfriForum Jeug gee Potchefstroom-Landboukollege ’n maand voor regsaksie sal volg;

Na afloop van ’n opvolg-veiligheid-en-gesondheidsondersoek aan die Potchefstroomse Landboukollege het AfriForum Jeug besluit om dié kollege ’n maand te gee om ’n volledige herstelplan in te dien en dringende herstelwerk te begin om moontlike regsaksie te vermy.

AfriForum Jeug se jongste ondersoek het aan die lig gebring dat die Potchefstroomse Landboukollege steeds aan die agteruitgaan is en dat dit ernstige veiligheid- en

gesondheidrisiko’s vir studente inhou om daar in te woon en te studeer.

Die eerste ondersoek is op 9 Desember 2010 deur AfriForum Jeug onderneem.

“Tydens die nuutste ondersoek het die landboukollege se bestuur lede van AfriForum Jeug, asook vir Franklin Jackson, die beroepsgesondheid-en-veiligheidskonsultant, van die kampus weggejaag. Die kollege se bestuur was duidelik aggressief en het geweier dat Jackson die koshuiskombuis binnegaan,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug gesê.

Die Potchefstroomse Landboukollege se bestuur kon geen onderhoudplan aan AfriForum Jeug beskikbaar stel nie en weier om die uitslag van die ondersoek te erken.

Cameron sê voorts dat die hoof, mnr Thovhakale, asook die studentedekaan, mnr Djan, nie in staat is om die kollege te bestuur of te onderhou nie, aangesien meer as ’n jaar verloop het sedert die eerste verslag aan hulle oorhandig is. “Sedertdien is geen verbeteringe aangebring nie, terwyl studente meer as R25 000 per jaar vir hul studies betaal,” sê Cameron.

Die volgende punte is in die opvolgondersoek uitgewys:

· Verf dop steeds van mure in al die koshuise af.

· Die meeste storte het nie stortkoppe nie.

· Plafonne is steeds gebreek.

· Elektriese kabels is nie bedek nie en steek by mure uit.

· Glasruite is gebreek.

· Kragbokse kan nie toemaak nie.

· Teëls in badkamers is gebreek.

· Nooduitgangtekens bestaan nie.

· Die meeste brandblussertoerusting word vermis en die oorblywendes is beskadig.

· Geen eerstehulpkassies is in koshuise beskikbaar nie.

· Daar bestaan nie brandalarms in enige van die geboue nie.

· Badkamers word beskryf as onuitstaanbaar en onhigiënies.

· Grasperke en tuine is onnet en word nie onderhou nie.

· Rioolpype is beskadig en riool loop teen koshuise se buitemure af.

“Indien AfriForum Jeug nie binne die volgende maand ’n herstelplan van die landboukollege ontvang en dringende verbeteringe op die kampus sien nie, sal dié kollege ’n brief van AfriForum Jeug se regspan ontvang. Die bestuur, asook die LUR vir landbou in Noordwes, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die agteruitgang van die kollege. Die toekoms van talle toekomstige voedselverskaffers word as gevolg van swak bestuur vernietig.”

Die gesondheid- en veiligheidrisiko’s is eenvoudig onaanvaarbaar vir ’n kollege wat alles tot sy beskikking het om ’n trotse tersiêre instansie te wees,” sê Cameron.