Subscribe by Email

AfriForum Jeug dien klag van taaldiskriminasie teen SUT in

AfriForum Jeug het vandag ’n klag van diskriminasie teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) by die Gelykheidshof in Bloemfontein indien. Hierdie klag volg nadat SUT onlangs hul taalbeleid na een van eksklusief-Engels verander het, terwyl verskeie studente by die aanvang van hul studies met SUT ooreengekom het om hul kursusse in Afrikaans te doen.

Studente sê hulle is nie in hierdie besluit geken nie en dat hulle juis besluit het om by SUT te studeer omdat hul Engels nie op peil is nie en dié inrigting kursusse in Afrikaans aanbied.

AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Ernst Roets, sê dit is ironies dat die één onderwyskwessie wat voortdurend in die grondwet uitgelig word die taalkwessie is. “Ten spyte van die grondwetlike beskerming wat studente veronderstel is om te geniet, is die skending van studente se taalregte regoor Suid-Afrika aan die orde van die dag.”

AfriForum Jeug is tans ook besig met ’n bewusmakingsveldtog oor die belang van moedertaalonderrig. “Mense moet nie net bewusgemaak word van waarom Afrikaans en moedertaalonderrig belangrik is nie. Ons moet ook aktief daarvoor stry.”