Subscribe by Email

AfriForum hof toe oor optog teen plaasmoorde

AfriForum gaan môre (Donderdag 29 November 2012) die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria nader vir toestemming om eerskomende Saterdag voort te gaan met sy optog teen plaasmoorde.

Dit volg nadat die Tshwane-metropolisie aanvanklik aangedui het dat hulle geen beswaar teen die voorgenome optog het nie, maar later te kenne gegee het dat “topbestuur” weier om toestemming vir die optog te gee. Die drama het ontwikkel nadat Ernst Roets, die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, vir Zweli Mnisi, die kommunikasiebeampte van die ministerie van polisie, gekontak het om te reël dat ’n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ’n versoekskrif van optoggangers in ontvangs neem. Mnisi het egter tydens die gesprek aan Roets te kenne gegee dat hy ’n stokkie voor die beplande optog gaan steek.

Volgens Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, waarborg artikel 17 van die Grondwet as ’n basiese mensereg die reg van alle burgers om te demonstreer, optogte te hou en versoekskrifte te oorhandig. Die metropolisie se skielike weiering om die byeenkoms toe te laat, kom dus as ’n verrassing.

Verskeie bekende Suid-Afrikaners, waaronder Steve Hofmeyr, het reeds aangedui dat hulle Saterdag aan dié optog gaan deelneem. Die optog is deel van AfriForum en die Solidariteit Beweging se veldtog teen plaasaanvalle en vir die bevordering van landelike veiligheid. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het gister ’n konferensie oor plaasaanvalle aangebied waar onder meer berig is dat boere se kans om vermoor te word twee keer groter is as dié van enige ander Suid-Afrikaner. Tydens die konferensie is daar ook verslag gelewer oor die ongekende wreedheid van die meeste plaasaanvalle.

Die dringende aansoek sal môre om 10:00 in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor word.

One Response to AfriForum hof toe oor optog teen plaasmoorde

  1. Pingback: Nuuskommentaar: Stilte in die hof! : Maroela Media