Subscribe by Email

Afriforum help Koisan

AfriForum Jeug gaan op 21 Februarie saam met ʼn afvaardiging van die Khoisan-gemeenskap voor die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling byeen kom om duidelike eise oor die aansprake wat op dié gemeenskap se geskiedenis en voorregte gemaak word, aan die regering te stel.

Die Khoisan-gemeenskap beplan om veral eise ten opsigte van grondbesit in Suid-Afrika te stel en meen dat die hulle geregtig is op miljoene hektaar grond wat tans in staatsbesit is.

“Die Khoisan-gemeenskap het AfriForum Jeug genader om hande te vat in die geveg vir minderheidsregte in Suid-Afrika. Weens die ingewikkelde geskiedenis van die land, minag die ANC gerieflikheidsonthalwe groepe soos die Khoisan en die Afrikaner deur nie erkenning aan hulle geskiedenis te gee nie,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

“Indien die ANC ʼn grondhervormingsbeleid wil opstel wat op die geskiedenis van toepassing is, moet hulle eerlik met die volledige geskiedenis omgaan en nie net kyk na wat na 1913 gebeur het nie. Dit is tyd dat die ANC besef dat hulle nie alleen in hierdie land woon nie en dat minderheidsgroepe hier is om te bly,” volgens Oberholzer.

Die Khoisan-verteenwoordigers gaan ʼn lys eise aan Phumzile Simelela, hoofdirekteur van die kantoor van die direkteur-generaal, oorhandig.

Die ondersteuning wat AfriForum Jeug aan die Khoisan-gemeenskap verleen, maak deel uit van AfriForum se omvangryke veldtog teen die verdraaiing van geskiedenis in Suid-Afrika.

Die Khoisan-gemeenskap is die afgelope drie maande reeds twee keer verhoed om ʼn massaoptog in Pretoria te hou en beskou die aanhoudende afkeuring van hulle aansoeke as ʼn weiering en ontkenning van die Khoisan as ʼn gemeenskap.

Datum: 21 Februarie 2012

Tyd: 11:00

Plek: Departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling, Jacob Maréstraat, Pretoria

RSVP: Charl Oberholzer