Subscribe by Email

AfriForum en Masilonyana munisipaliteit eersdaags in hof oor Winburg-konsentrasiekampbegraafplaas

AfriForum sê eersdaags die Masilonyana munisipaliteit die stryd in die hof aan weens die munisipaliteit se gebrek om sy pligte na te kom wat sal verseker dat die konsentrasiekampbegraafplaas van Winburg na behore bewaar word. AfriForum het in Julie 2012 ʼn aansoek teen die munisipaliteit gebring weens laasgenoemde se swak bestuur van die omgewing om hierdie belangrike erfenisterrein. Die munisipaliteit het pas aangedui dat dit die aansoek gaan opponeer.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en kultuurhistorikus, is die probleme by die begraafplaas onder meer deur die Erfenisstigting en lede van AfriForum se Winburg-tak onder AfriForum se aandag gebring. Daar is hoofsaaklik drie kwessies wat die toeganklikheid, toestand en toekoms van die terrein ingrypend raak:

Die dorp se gebrek aan ʼn rommelbeheerbeleid, soos wetlik voorgeskryf word, het tot gevolg dat rommel om en op die terrein gestort word. Nie net word die grafte van vroue- en kinderslagoffers van die Anglo-Boereoorlog, asook enkele Britte, deurgaans deur bourommel, huisafval en selfs dooie diere bedek nie, maar word ʼn gesondheidsgevaar ook vir woongebiede in die omgewing geskep.
Die pad na die terrein is haas onbegaanbaar. Die terrein is van groot kultuurhistoriese belang, maar toeriste en historici kan dit tans net met groot moeite en gevaar bereik. In die reënseisoen word die probleem nog erger.
Onwettige gruisgrawery direk langs die terrein skep ʼn ernstige erosiegevaar. Van die grafte toon reeds skade wat die Erfenisstigting deurgaans probeer herstel, maar terwyl die grawery voortduur, gaan die probleem voortduur.

Die munisipaliteit het voor AfriForum se aansoek verskeie versoeke van die Erfenisstigting en selfs direktiewe van die Vrystaatse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake geïgnoreer en al bogenoemde probleme toegelaat om te vererger. Die situasie is ook gekompliseer deur die feit dat die munisipaliteit in dié tyd verskillende munisipale bestuurders gehad het. Onder die omstandighede is regsaksie die laaste uitweg om te verseker dat ʼn terrein wat van besondere kultuurhistoriese betekenis vir Suid-Afrika en Brittanje is, nie verlore gaan nie.

“Landswyd word al minder deur plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede gedoen om bestaande erfenisterreine te bewaar. Ons hoop die saak kan ʼn toetssaak word wat ander owerhede kan herinner aan hulle wetlike plig om ons land se erfenis te bewaar,” het Bailey gesê. Daar word nou op ʼn hofdatum gewag.