Subscribe by Email

AfriForum dien klag van haatspraak teen polisiebeampte by Menseregtekommissie in

AfriForum het vandag ʼn klag van haatspraak teen Juda Dagane, ʼn polisiebeampte, by die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (SAMRK) ingedien en ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen dat Dagane uit sy pos onthef word. Dit volg nadat die dagblad, Beeld, gister berig het oor growwe rassistiese uitsprake wat Dagane onlangs op ʼn Facebook-blad ter ondersteuning van Julius Malema gemaak het.

“As die swart Messias (Nelson Mandela) doodgaan, sal ons die wittes ʼn les leer. Ons sal volksmoord teen hulle pleeg: Ek haat wittes,” het Dagane volgens ʼn berig, wat op 19 November gepubliseer is, gesê. Hy het bygevoeg dat wittes geen plek in hulle (“ons”) harte en gedagtes het nie. Op 7 Desember het Dagane bygevoeg dat hy ’n werknemer van die SAPD is. Die uitlatings is sedertdien verwyder en die polisie het onderneem om die saak te ondersoek.

Die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, het die klag by die SAMRK ingedien. “Dagane se opmerkings is meer as net ’n growwe vorm van haatspraak. Dit is aanhitsing tot geweld en selfs tot moord,” het Roets gesê. AfriForum het ook ʼn beroep op die SAPD gedoen om Dagane uit sy pos te onthef en gedreig om verdere stappe teen Dagane en die SAPD te neem indien daar nie op sy optrede ingegaan word nie.

“Geen persoon het die reg om sulke uitlatings te maak nie. Om dit egter uit die pen van ʼn ampsdraer van die SAPD te hoor, is uiters kommerwekkend. Ten einde sy reputasie te beskerm, sal die SAPD daadwerklike stappe teen Dagane moet neem,” het Roets gesê.

AfriForum sal die SAPD se ondersoek teen Dagane monitor.