Subscribe by Email

AfriForum begin ‘n petisie om die Pilanesberg Nasionale Park te red

AfriForum het ’n aanlynpetisie van stapel gestuur om mynbedrywighede op die grens van die Pilanesberg Nasionale Park in die Noordwes provinsie te keer. 

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, hou mynbedrywighede vele bedreigings vir die gebied in. “Hierdie aktiwiteite sal die natuurlike omgewing skaad en sal ’n uiters sensitiewe area, waarin vleilande en fonteine voorkom, versteur. Die vleilande en fonteine is ’n toevlug vir talle bedreigde spesies waaronder swartrenosters, jagluiperds, wildehonde, bruin hiënas, luislange, brulpaddas en heelwat ander ongewerwelde spesies,” het Kleynhans gesê.

“Almal wat in die bewaring van ons nasionale parke belangstel, behoort die petisie te onderteken. Die petisie kan geteken word deur die skakel op www.groenforum.co.za onder veldtogte te volg,” het Kleynhans gesê.

Die voorgestelde mynbouterrein is op die noordwestelike grens van die park, die grens van die Pilanesberg Nasionale Park en die Swartrenosterreservaat geleë.“Dit hou talle bedreigings vir die gebied in, insluitend suur mynwaterdreinering in ’n gebied wat reeds onder waterskaarste gebuk gaan, die impak op dierelewe, ekologiese agteruitgang, habitatvernietiging en vele ander bedreigings,” het Kleynhans gesê.

Volgens Kleynhans lewer die ontwikkeling van myne ’n bydrae tot ekonomiese groei op die korttermyn, terwyl ekotoerisme langtermyn ekonomiese groei, opleiding en bewaring tot gevolg het. “Daarom moet ons ons erfenis en natuurlike hulpbronne bewaar,” het hy afgesluit.

Die petisie sal gerig word aan die Minister van Omgewingsake, Mev. Edna Molewa en steun die sogenaamde “no go”-alternatief waarvolgens geen mynontwikkelings toegelaat word nie. Terselfdertyd steun die petisie ook die Erfenisontwikkelingsprojek waarvolgens die Pilanesberg Nasionale Park en die Madikwe Wildtuin bymekaar aangesluit sal word.