Subscribe by Email

AfriForum: 15-punt-plan vir ʼn groener werkplek

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, speel hierdie inisiatief ʼn belangrike rol om die volhoubaarheid van die land se natuurlike hulpbronne te bevorder. “Besigheid is die dryfkrag van ons ekonomie. Dit is waar ons natuurlike hulpbronne in prosesse gebruik en ontgin word en waar dit as eindprodukte op ekonomiese wyse verhandel word,” het Kleynhans gesê.

AfriForum meen dat die onus op die besigheidswêreld is om ʼn groen voorbeeld vir sy verbruikers te stel. “Omgewingsvriendelike praktyke moet ʼn kultuur vorm en verbruikers moet aangespoor word om deel te raak van hierdie kultuur,” meen Kleynhans.

Klimaatsverandering en die afname in hulpbronne oorheers die nuus. Vandag is kleinsake-eienaars op soek na maniere om hul bedrywighede meer omgewingsvriendelik te maak. Eenvoudige stappe, soos die herwinning van koeldrankblikkies en die aanbring van kompakte fluoorgloeilampe, is ’n goeie begin, maar daar is talle ander maniere waarop produsente en verbruikers sonder veel moeite en hoë koste ’n groot verskil kan maak.

AfriForum se 15-punt-plan vir ʼn GROENER kantoor sien só daaruit:

1. Koop omgewingsverantwoordelike papier, skryfbehoeftes, kantoorvoorraad en ander voorkeurprodukte.

2. Deur onnodige energieverbruik hok te slaan, kan ’n klein onderneming baie geld bespaar. Deur hierdie metode toe te pas en die proses noukeurig te monitor, sal jou besigheid ook ’n bydrae lewer in die stryd teen besoedeling.

3. Omgewingsvriendelike energiebronne is reeds algemeen beskikbaar. Dit sluit fluoorgloeilampe in. Deur fluoorgloeilampe te gebruik, kan jy jou elektriese uitgawes met sowat 75% besnoei en die gloeilampe hou boonop tien keer langer.

4. Vervang die filters van jou lugversorgingseenhede gereeld.

5. Maak meer gebruik van kommunikasie per e-pos en die elektroniese oordraging van lêers. Dit sal jou besigheid se papieronkoste aansienlik verminder.

6. As jou besigheid afhanklik is van inkomende en uitgaande fakse, sal ’n rekenaarfaks- modem jou in staat stel om hierdie dokumentverkeer te hanteer sonder dat dit nodig is om gedrukte afskrifte te maak.

7. Die aankoop van produkte en toerusting wat herwin is, bied ook ’n aantreklike opsie vir klein ondernemings om die groen pad te stap.

8. Verminder papierverbruik deur aan weerskante van die papier te druk en maak gebruik van produkte wat herwin is. Gebruikte papier kan vir konsepdokumente, notas en interne dokumente hergebruik word. As die papier geen verdere nut het nie, poog om die papier self na ’n herwinningsaanleg te neem.

9. Daar is waarskynlik meer herwinbare items om jou in die kantoor as wat jy besef. Jou munisipaliteit se vaste-afval-departement kan inligting oor materiaalherwinning en herwinningsprosedures verskaf.

10. Vind plaaslike agentskappe en organisasies wat rekenaars en drukkers herwin. Talle liefdadigheidsorganisasies aanvaar ongewenste kantoormeubels vir herstel en hergebruik deur ander maatskappye, organisasies, skole en welsynsorganisasies.

11. Begin ʼn herwinningsprojek waar alles, insluitend papier, bottels en blikkies, inkkassette, karton, batterye en selfs meubels, herwin kan word.

12. Bemark volhoubare vervoer deur werknemers aan te moedig om te loop, of om van saamryklubs of openbare vervoer gebruik te maak.

13. Bemark die verantwoordelikheid wat elkeen teenoor die omgewing het onder nuwe personeel, studente, besoekers, kontrakteurs en verskaffers.

14. Monitor die werksomgewing en die vordering deur middel van gereelde assesserings en gaan voort om te strewe na innoverende en praktiese oplossings vir omgewingskwessies en om dit deur te voer.

15. Bring plante in die werksplek aan.

“Deur hierdie 15-punt-plan toe te pas, kan ʼn besigheid sy kantore baie maklik meer omgewingsvriendelik en volhoubaar maak en sodoende ’n groener toekoms vir almal verseker,” volgens Kleynhans.

AfriForum moedig alle besighede aan om hierdie inisiatief te implementeer. “Deur die leiding te neem en ʼn voorbeeld vir ander in die werksplek te stel, kan ʼn omgewingsvriendelike kultuur geskep word,” sluit Kleynhans af.