Subscribe by Email

Afcon: Suid-Afrika het opdraande stryd

Suid-Afrika se doellose gelykopuistslag teen die Kaap Verdiese Eilande gaan Woensdag swaar weeg wanneer die BafanaBafana teen Angola op die veld stap.

Hoewel daar ’n verslaentheid is dat die piepkleine Kaap Verde Suid-Afrika kon frustreer, is die eilandbewoners nie manne om sonder handskoene aan te pak nie. Hulle is 70ste op die wêreldranglys gekeur, teenoor Suid-Afrika se 85ste.

Trouens, hulle is ook beter gekeur as Angola wat 78ste op die ranglys is, en dus ook ‘n goeie kans staan om die tuisspan te klop.

Om sake vir die Suid-Afrikaners nog moeiliker te maak, is die ander span in die groep, Marokko, ook hoër op die ranglys as Suid-Afrika en beklee die 74ste plek. Dit behoort dus nog moeiliker te wees as om die knoop teen Angola deur te haak.

In toernooie beteken ranglyste nie altyd veel nie, en Suid-Afrika het in die vorige wêreldbekertoernooi wat in Suid-Afrika gespeel is, getoon dat die land selfs in die grootste geselskap nie sommer omgeploeg word nie.

Die probleem is dat die Bafana teen die Kaap Verde weinig sinnigheid getoon het om te wen. Die agterspelers het nie genoeg geleenthede vir die skerpskutters geskep om doele aan te teken nie.

Hiervandaan sal die Suid-Afrikaners hul koppe moet reg aanskroef, en besef dat hulle bo hul vermoë moet speel. Versigtig speel is nie ‘n opsie nie – nie meer nie.

Herman Toerien