Subscribe by Email

adv. Anton Alberts, “ANC speel met vuur”

adv. Anton Alberts

“Die ANC speel met vuur deur te torring aan mediavryheid,” het adv. Anton Alberts, Vryheidsfront Plus-parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, gesê.

Volgens Alberts sal dit die eerste stap wees in die globale isolasie van Suid-Afrika en ons terugneem na die sanksie-dae van die 1980’s. Hy het verder aangevoer dat hierdie stap uiteindelik die grondwet in geheel kan lostorring en dus die grondslag kan stel vir die herlewing van ou konflikte. Hierdie waarskuwing kom op die dag wat die ANC in gesprek tree met die media rondom die kwessie van die daarstel aldan nie van ‘n staatsbeheerde mediatrubinaal.

“Die VF Plus steun persvryheid in sy totaliteit en sal enige pogings van die ANC om staats- of ander beheer oor die media te kry hand en tand beveg,” het Alberts gesê. Daar bestaan alreeds instrumente om die media aanspreeklik te hou, soos die howe en die ombudsman. Die ANC behoort veel eerder aandag te gee om toegang tot die howe meer koste-effektief vir die gewone burger te maak in plaas daarvan om die gesag van die bestaande instrumente te ondermyn. Meeste persone kan nie ‘n saak teen mediamaatskappye in die howe beveg nie weens finansiële wanbalanse.

Alberts het voorts verwys na Hongarye wat onlangs ‘n staatsbeheerde media-owerheid daargestel het wat mediavryheid in die land bedreig. “Hongarye is ‘n lewende bewys dat mag korrupteer en dat algehele mag algeheel korrupteer. Soortgelyk aan Suid-Afrika, het die regerende party in Hongarye, die Fidesz Party, ‘n tweederde-meerderheid en het op grond daarvan eensydig besluit om ‘n media-owerheid te skep wat die magte het om mediavryheid aan bande te lê. Die gevolg daarvan, saam met ander onsmaaklike maatreëls oor bankbelastings, is dat die wêreldgemeenskap ongunstig en skepties na Hongarye begin kyk. Suid-Afrika kan uiteindelik dieselfde lot verwag indien die mediatrubinaal sou realiseer weens die ANC se parlementêre meerderheid.”

Die VF Plus sal die verwikkelinge fyn monitor en hom selfs tot die Konstitusionele Hof wend indien nodig ten einde hierdie misplaaste idee van die ANC te kelder.