Subscribe by Email

Absurditeite met SA-rugby moet reggeruk word

Die absurditeite met die huidige rugby-opset in Suid-Afrika is gisteraand weer wyd oopgeruk toe die spartelende Cheetahs agt drieë teen aanstaande jaar se Super-groentjie, die Oos-Kaapse Kings ingeryg het. Met sy oorwinning van 53-14 in die eerste van twee promosie-relegasiewedstryde het die Cheetahs effektief seker gemaak die Kings sal wel Superrugby ten koste van die Leeus speel, maar daarna weer in die eerste liga teen die land se kleiner bonde moet meeding.
Met die relegasie van die Leeus, en die Superstatus van die Kings, gaan die Kings egter volgende jaar ‘n veel sterker span in die veld stoot. Andries Strauss, wat gisteraand twee drieë teen die Kings gedruk het, speel byvoorbeeld volgende jaar in die Baai, en hy is maar een van verskeie spelers wat die Kings in die Superreeks gaan woema gee.
Dit sal heel waarskynlik aan die einde van volgende jaar se Super- en Curriebekereekse meer oemf aan die promosie-relegasiestryde gee.
En vanjaar se Groot Skrik het voor die laaste rondte Curriebekerwedstryde nog beteken enige van vier spanne – die Cheetahs, Griekwas, die WP en die Blou Bulle kon gisteraand in die Cheetahs se tokse gestaan het, óf die Curriebeker-eindstryd gehaal het. Dis die noodwendige prys van ‘n beheptheid met krag teen krag.
Die rugbypubliek is vreemde wesens. Vaar hul span swak, is hulle onder in ‘n donker put. Vaar die span goed, is hulle in die wolke.
Cheetahondersteuners was sedert die realiteit van die promosie-relegasie deurgedring het in die donker put, en het van daar af luidrugtig hul misnoeë laat blyk. Eintlik het die aantog put toe sommer vroeg die seisoen tydens die Superreeks begin toe die Cheetahs hardgewonne besit vir hul opponente se snellers begin skop het, en andersins ook maar soos mamparras kantlyn toe gesool het.
En die rugbypubliek ken hul rugby eenvoudig te goed om deur simpatieke mediaberigte oortuig te word dat daar nie ‘n hele rits skroewe los is nie.
Die koppe is dus op ‘n streep geëis – van afrigters tot administrateurs tot bestuur. Lindsay Mould, die president, het aangedui daar gaan inderdaad diep gekyk word, maar eers moet plan gemaak word met die wolf – in die gedaante van die Kings – voor die deur. Noudat die wolf verwilder is, moet egter nie van die regrukplanne vergeet word nie.
Dis nie nuwe probleme nie.
Ontevredenheid onder spelers kom nie van gister af nie. Van ongeveer 1994 af vir meer as ‘n dekade lank het bussies gereeld tussen Bloemfontein en Kimberley geloop soos ‘n hele rits spelers vir Griekwas uitgedraf het. Onder hulle tel die Bester-broers, Piet en André, en Dawie Theron.
Maar selfs hiervoor het baie bekende spelers wat hul rugby in die Vrystaat geleer het, nooit eens vir die Vrystaat of van die ander Vrystaatse bonde gespeel nie. Die bekendstes sluit in Danie Craven, Mof Myburg, Dawie Snyman en Morné du Plessis, en later Morné en Frans Steyn, en Ruaan Pienaar. In van die gevalle het meer as net ‘n skoot suur sop deurgeloop.
Selfs Nelie Smith wat al sy provinsiale rugby vir die Vrystaat gespeel het, en ook Springbokafrigter geword het, het met ‘n omweg as Vrystaatse afrigter toe afrigter van die OP geword. In wedstryde tussen die bonde kon die onmin tot op die pawiljoene aangevoel word.
Op bestuursvlak was daar ‘n mislukte staatsgreep om Barry Wolmarans in Harold Verster – toe ook president van die unie – verkies te kry. Wolmarans het wye steun by die rugbypubliek geniet, maar nie genoeg steun onder die stemgeregtigdes nie.
Ook die leë pawiljoene is geen nuwe verskynsel nie. In 1998 is reeds berig dat die hekinkomste so min is dat die kaartjieverkope kwalik die salarisse van die verkopers dek. Dit het in ‘n stadium hierna beter gegaan, met Kennedy Tsimba wat die span sprankelrugby laat speel het, en die gemeenskapsmedia wat opgewonde die pawiljoene vol geskryf het.
‘n Konstante probleem is die teenwoordigheid van sleg gesuiptes op die pawiljoene – ‘n probleem wat skynbaar nie effektief aangespreek kan word nie weens die omvang van ‘n stewige drankborgskap. Verskeie opnames het aangetoon die gopse se gedrag is die hoofrede hoekom baie toeskouers begin wegbly het.
Sedert die aanbreek van die werklike professionele era was dit duidelik dat die Cheetahs swaar sou trek. Na 1994 was Bloemfontein nie meer een van vier provinsiale hoofstede nie, maar een van nege in ‘n provinsie wat onder die kleineres, en ekonomies wurgendes tel.
Vanuit ‘n borg-oogpunt nie baie bevorderlik nie, veral as die span nie presteer nie. Om die borge ter wille te wees, is die ongewilde besluit geneem om die tradisieryke stadion se naam van Vrystaat-stadion na dié van die borg te verander. Onmiddellik skep dit probleme met die media waar die borg nié adverteer nie. Dié borgskap was boonop kortstondig.
Nog ‘n mediaprobleem is dat SARVU die radio-uitsaairegte aan RSG verkoop het, en RSG toe weer bitter snoep was met die uitsaai van wedstryde waarin die Cheetahs betrokke was. In heelwat van die wedstryde wat uitgesaai is, is lynprobleme ervaar. Boonop het RSG verhinder dat Radio Rosestad en ander gemeenskapstasies wedstryde uitsaai wat RSG nié uitsaai nie. En lank nie al die ondersteuners het betaal-TV nie. Dit is veral sinneloos teen die agtergrond dat die Cheetahs, waarskynlik meer as ander bonde, na die gemeenskap waar rugby ontwikkel moet word moet uitreik.
Waar die Cheetahs in die middel 90’s ‘n redelike mediaskakelingsvermoë gehad het, het dit effektief in duie gestort, en kon lank nie weer op dreef kom nie. Fluisteringe van nepotisme bo vermoë was volop. Dit het eers betreklik onlangs reggekom.
Die bewerings van nepotisme het egter ook oor ‘n veel wyer front gestrek.
Dat sake op afrigtersvlak reggeruk moet word, is duidelik so. Presies wat, is moeiliker om te bepaal. Dat Hawies Fourie en Naka Drotské geskei moet word, is egter ‘n gegewe. Hul rugbyvisie verskil so erg dat dit by mediakonferensies klink of hulle mekaar erg weerspreek. Miskien verklaar dit ook hoekom Naka sê die skoppery gaan end kry, en dan skop die span weer die besit vir die opponente om mee te gaan druk.
En as ‘n stut by die skeidsregter – in plaas van die voorspeler-afrigter moet les kry hoe om nie strafskop op strafskop af te staan nie…?
Die lekkerbek-Cheetahondersteuners sal weer die pawiljoene vol pak as hul span begin Cheetahrugby speel. Dit behels nie ‘n eerste instink skoppery nie. Dit behels nie kyk waar die naaste en grootste opponent is en in hom gaan vashardloop nie – eerder verbykom en ‘n paar spelers insuig. Dit behels vingerpunt-bewegings op volspoed, ‘n voorhoede onder ‘n kombers sodat sou daar ‘n onderskepping wees die onderskepper se pale net daar en dan gelig sal word.
Van Leon Vogel se dae af het die Cheetahs ‘n ongelooflike stroom vleuels opgelewer waarvan talle Springbokke geword het – maar die spel die afgelope paar seisoene dien as ‘n vleuelmoeras. Raymond Rhule kan nie die enigste swaeltjie van die somer wil wees nie.
En ja, dit mag as verleentheid ervaar word, maar die Cheetahs sal ernstig moet dink daaraan om ‘n keurpaneel aan te stel. Die Cheetahs het eenvoudig nie die diepte dat afrigtersvoorkeure spelers wat hopeloos van stryk is soos ‘n gatvlieg te laat sit en wedstryde te kos, terwyl talent in die bond misgekyk word nie. Dit was skokkend hoe ‘n besering ‘n van stryk af speler laat uitsit, en ‘n ongeroemde kans laat kry het, en dié ongeroemde as spelbreker ontpop het waaraan die Cheetahs toe ‘n groot behoefte gehad het. En die arme joernalis wat toe vra of die afrigter nou opgewonde is dat ‘n spelbreker uitgeslaan het – die suur gesig, en die van stryk af speler terug, en die spelbreker terug in die woestyn. So ‘n afrigter durf nie ook keurder wees nie.
En helaas, dit verg weer rugbyskrywers wat die aanloop tot, en wedstryde self op papier kan laat lééf. Verslaggewers wat bloot as His Naka’s Voice optree doen dit nie.
En ja, dit is moontlik – dit is in die aanloop tot die wedstryd teen die Kings gesien toe meer as een verslaggewer ingespring en die rugbykoors daagliks laat oploop het.
Herman Toerien

One Response to Absurditeite met SA-rugby moet reggeruk word

  1. Christo

    Oktober 21, 2012 at 6:06 am

    Ek het genoeg gehad van Cheeta rugby. Tans laat beide Griekwas en die Leeus – met minder bekende spelers – Vrystaat na amateurs lyk. Hulle het ‘n dringendheid en ‘n energie wat by Vrystaat ontbreek. Vervang asb vir Harold en Naka dan haal ek weer my cheeta vlag en onderbroek uit, maar tot dan kry Akkersen die Leeus my stem, want dit is mos HOE rugby gespeel moet word.