Subscribe by Email

ABSA Bank skuldig aan roekelose krediet verskaffing

Absa gebou in Pretoria

Absa bank is skuldig bevind aan roekelose krediet verskaffing in die Port Elizabeth landdroshof, nadat hulle aan ’n 81 jarige pensionaris van Port Elizabeth ’n huisverband toegestaan het. Die hof het volgens die koerant, Herald Online, bevind dat die lening roekeloos was en geskrap moet word. Die uitspraak word beskou as ’n landmerk uitspraak in die land se regsgeskiedenis.

Die bank het volgens berigte aan die pensioenaris ’n huislening van R 350 000 toegestaan, terwyl die gesamentlike inkomste van die man en sy vrou slegs R 3700.00 per maand is, uit hul pensioen. Hulle maandelikse uitgawes is R 2472.00 per maand, terwyl die maandelikse terugbetaling op die lening R 4200.00 per maand beloop.

Die situasie het veroorsaak dat die man agterstallig geraak het met sy huisverband en Absa wou die huis terugneem. Skuldberaders het hom egter gehelp om die saak hof toe te neem.

Die Bank ombudsman Clive Pillay het gewaarsku dat banke nie moet dink hulle is verhewe bo die Kredietwet nie. Die wet is spesifiek daarop gemik om verbruikers te beskerm teen te veel skuld en was reeds in werking vier maande voordat die lening aan die pensioenaris toegestaan was deur Absa.

’n Absa woordvoerder het aan die Herald koerant gesê hulle sal later ’n verklaring hieroor uitreik.