Subscribe by Email

AB spoel mond uit oor Menseregtekommissie

Op 10 Maart 2010 het die Afrikanerbond ʼn eerste klagte by die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie ingedien nadat daar in die media gerapporteer oor die “dubulu iBhunu” – “Skiet die boer” uitsprake deur mnr Julius Malema, president van die African National Congress Jeugliga (ANCYL) wat op Dinsdag 9 Maart 2010 aan die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein kampus gemaak is.
Volgens verskeie berigte in die media het mnr Malema weer hierdie lied gesing by ‘n openbare vergadering in Mafikeng op 22 Maart 2010. Dit is gevolg deur ‘n uiters rassistiese aanval op wit joernaliste. Gevolglik het die Afrikanerbond weer ʼn klagte ingedien op 23 Maart 2011.
Op 13 April 2010 het die Afrikanerbond ʼn derde klagte ingedien na mnr Malema se tirade teen die BBC korrespondent, Mnr Jona Fisher en die media op 8 April 2010.
Al bogenoemde klagtes het verwys na haatspraak en aanhitsing. Die Afrikanerbond is op 27 Mei 2010 ingelig dat mnr Malema deur die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie versoek is om te reageer op die klagte. Die Afrikanerbond het telkemale navraag gedoen by die Mensregtekommissie oor die klagte en die lang verloop sonder enige uitspraak. Die Menseregtekommissie het bevestig dat mnr Malema, ten spyte van verskeie versoeke deur die Menseregtekommissie, nie gereageer het nie.
Op 8 September 2010 het die Afrikanerbond weer navraag gedoen en is op 17 September 2010 ingelig dat die SAMRK in die daaropvolgende week “ A high internal strategy meeting” sal hou om die volgende stap te bepaal.
Na verdere navraag deur die Afrikanerbond is ʼn skrywe gedateer 11 November 2010 ontvang waarin aangedui is dat die SAMRK besluit het om ʼn openbare verhoor oor die saak te hou. ʼn Datum sou mettertyd gekommunikeer word. In Februarie 2011 het die Afrikanerbond opnuut navraag gedoen oor die verhoor en het geen reaksie ontvang nie. Op 12 Mei 2011 is die Afrikanerbond ingelig van ʼn openbare verhoor wat op 25 en 26 Mei 2011 sal plaasvind en dat die verweerder, mnr Julius Malema gedagvaar is om te verskyn. (op 15 Mei het die Hooggeregshof uitspraak gelewer)
Nadat die Afrikanerbond op Vrydag 20 Mei 2011 navraag gedoen het oor die formaat van die verhoor is ons ingelig dat die openbare verhoor skielik uitgestel is tot ʼn latere datum.
Die verloop van bogenoemde proses rondom die klagte en die skielike uitstel van die openbare verhoor noop die Afrikanerbond tot die volgende standpunt oor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie:
• Dat die SAMRK onkant betrap is deur die uitspraak van 15 Mei 2011 deur waarnemende Regter, Leon Halgryn in die Suid-Gauteng Hooggeregshof waarin hy die ANC se aansoek tot appèl oor die sing van die lied verwerp het.
• Dat die SAMRK hom aan die neus laat lei deur mnr Malema en sy regspan;
• Dat die SAMRK maar alte gewillig is om polities gedienstig te wees;
• Dat die SAMRK bereid is om menseregte tweede viool te laat speel ten koste van hoë politieke profiel individue;
Na meer as ʼn jaar sedert die eerste klagte ingedien is het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie nou onomstootlik bewys dat die Grondwetlike instelling doodeenvoudig nie in staat is om sy grondwetlike pligte na te kom en af te dwing nie. Inteendeel die persepsie dat die grondwetlike instelling ʼn politieke instrument geword het word bewys deur die gemoedelike inskiklikheid waarmee die SAMRK sy grondwetlike taak versuim om mnr Malema en die ANC ter wille te wees.
Indien die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie ʼn spoedige bevinding gemaak het nadat die eerste klagte op 10 Maart 2010 ingedien is, (Meer as 500 klagtes is sedertdien ingedien deur verskeie individue en instansies) sou dit in alle waarskynlikheid nie nodig gewees het vir ander instansies om die howe te nader vir uitsprake nie.
In ander gevalle is die Mensregtekommissie baie vinnig om uitsprake te maak ten opsigte van regte wat geskend is, maar wanneer dit polities riskant is kan individue die Mensregtekommissie polities manipuleer en laat die SAMRK hom dit welgeval. Dit is nou ook bewys met die SAMRK se traagheid om uitspraak te lewer in die Vrystaat toilet-sage. Dit wil toenemend lyk asof die Mensregtekommissie sommige individue en partye se regte hoër ag as ander en word die toepassing en monitering van menseregte oor die algemeen nou ʼn politieke speelbal.