Subscribe by Email

AB oor Vryheidsdag

– Stemme van redelikheid moet nou gehoor word

Verklaring deur Pieter Vorster, voorsitter van die Afrikanerbond,

Met die viering van Vryheidsdag op 27 April 2011 het ek in ʼn ope brief aan die ANC gevra dat ons dit ʼn jaar van nasionale dialoog moet maak om mekaar te vind rondom grondwetlike waardes. Ons versoek vir die nasionale dialoog was juis om die gepolariseerde gemeenskappe weer bymekaar te probeer bring en om ʼn vennootskap te sluit tussen die regering en die burgerlike samelewing.

Ons was daarom verbaas toe mnr Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC baie afwysend en verontwaardig gereageer het. Ons verwagting was dat die ANC eerder positief op ʼn versoek vanuit die burgerlike gemeenskap om die grondwetlike waardes opnuut te definieer en net soos in die 1990’s by wyse van onderhandeling, weer inhoud te gee aan die nasionale akkoord, sou reageer. Sedertdien het die leierskap van die ANC egter eksponente van ontkenning en verontwaardiging op kritiese stemme in die samelewing geword.

In die pas afgelope jaar, en ʼn jaar na mnr Mantashe se ontkennings en afwysende standpunte is die indruk dat Suid-Afrika op ʼn verdere glybaan na onbevoegde regering geplaas is met ʼn falende staat as uitkoms, versterk. Die beleidsraamwerk oor grondhervorming, die oproepe tot grondwetwysigings, mediavryheid wat aan bande gelê word deur ʼn beperking te plaas op inligting, eensydige straatnaamveranderinge, ʼn taalwetsontwerp wat Afrikaans beperk, en vele meer het simptomaties geword van ʼn meerderheidsparty wat geen respek vir die Grondwet en die Nasionale Akkoord het nie en doodeenvoudig die burgerlike samelewing probeer oordonder met ongetoetste en ondeurdagte beleidsraamwerke, gegrond op uitgediende ideologieë. Indien konstruktiewe dialoog binne die raamwerk van die Grondwet oor hierdie knel- en kwelpunte met die regering en regerende party moontlik was, sou die toenemende konflik tussen die regering en die burgerlike samelewing vermy kon word.

ʼn Verdere bydraende faktor tot die steeds verslegtende verhouding tussen die burgerlike gemeenskap en die regering is die enorme skaal en omvang van korrupsie en diefstal uit die staatskas. Nie alleen word gemeenskappe van broodnodige ontwikkelingshulp ontneem nie, maar word die hart van ons demokrasie deur die oënskynlik ongebreidelde misdadigheid en kriminaliteit uitgeruk. Die beperkte bronne wat toegelaat word om korrupsie en diefstal uit die staatskas aan te pak is ʼn duidelike bewys dat die politieke wil doodeenvoudig ontbreek omdat korruptes en kriminele self hoë posisies inneem. Die indruk is dat kader-ontplooiing eerder daaroor gaan om die staatskas leeg te plunder en die buit te verdeel, as om dienslewering te bewerkstellig.

Die enigste ligpunt is dat daar wel enkele individue is soos dr Mamphela Ramphele wat nie skroom om vreesloos standpunt in te neem nie of soos die Openbare Beskermer, adv Thuli Madonsela, wat nie huiwer om op te tree nie. Ons weet ook dat daar individue in die ANC is wat net so bekommerd is oor gevaarlike beleidsrigtings en gebrekkige dienslewering en net so begerig is dat korrupte amptenare en politici, sonder aansiens des persoons, vervolg word. Die burgerlike samelewing het die redelike verwagting dat hulle stemme ook gehoor word. Saam kan ons weer betekenis gee aan Vryheidsdag as ʼn dag waarop ons demokrasie en grondwetlike waardes gevier word.