Subscribe by Email

Aardverwarming lewer nuwe eiland op – en het al ‘n naam

As ‘n mens op ‘n wêreldkaart die eilandjie Uunartoq Qeqertaq soek moet dit ‘n nuwe kaart wees – dit het maar onlangs onder Groenland se wegsmeltende yskap te voorskyn gekom.
Die naam beteken in die taal van die Inuit (Eskimo’s) “Verwarmde eiland” en is pas in die jongste uitgawe van die Times Comprehensive Atlas of the World opgeneem. In dieselfde uitgawe moes die samestellers 15 % van Groenland wat in die vorige uitgawe nog wit gekleur was, weens die smeltende ys nou bruin kleur.
Onlangs is ook berig dat die oppervlak van die Arktiese ys die afgelope noordelike some die kleinste oppervlak aangeneem het sedert dit met satelliete begin monitor is. Arktika verwarm twee keer vinniger as die wêreldgemiddeld omdat minder ys beteken dat minder sonlig van die aarde af weggekaats word, en deur die seewater geabsorbeer word.
Die samestellers van die atlas wys daarop dat sommige riviere weens verdamping, die opdam daarvan en toenemende besproeiing ophou vloei. ‘n Magtige rivier waarvan min water nog die see haal is die Colorado.
Foto: Reuters