Subscribe by Email

Aardverwarming en die oog op Antarktiese aardbewings

Aardverwarming en die oog op Antarktiese aardbewings

‘n Week gelede het ‘n aardbewing van M 5.6 naby die Ballynse eilande (Balleny Islands) naby Antarktika voorgekom. Dis nie besonder sterk nie, en dis op ‘n oseaniese rif waar twee tektoniese plate weg van mekaar beweeg. Dis dus ‘n area waar aardbewings verwag kan word.

Tog is dit bietjie meer interessant as wat op die oog af blyk.

Op 25 Maart 1998 het ‘n aardbewing van M8.1 in dieselfde omgewing voorgekom. Die uitsonderlikheid daarvan blyk nie net uit die sterkte daarvan nie, maar ook uit die feit dat aardbewings eintlik baie skaars op dié kontinent is. Verreweg die meeste aardbewings vind plaas naby die Antarktiese skiereiland en die rif wat daarvandaan met ‘n boog deur die Atlantiese Oseaan by die Andes aansluit.

Daardie grote het egter nie op die rif plaasgevind nie, en is geassosieer met ‘n prehistoriese en skynbaar onaktiewe foutlyn ‘n ent daarvandaan. ‘n Groep Japannese navorsers het na intensiewe studie bevind daardie aardbewing is veroorsaak deur ‘n aardkors-regstelling na ‘n groot deel van die Antarktiese poolys weens aardverwarming weggesmelt het.

Dié feit het weer relevant geword toe dit geblyk het dat die groot Japannese aardbewing se tsunami, toe dit reeds erg verswak Antarktika bereik het, steeds reuse stukke ysplate afgebreek het en in die see laat beland het. Die grootste hiervan was so groot soos Manhattan.

Dit het op sy beurt die vraag laat ontstaan: Wat as ‘n aardbewing naby Antarktika ontstaan en ‘n reuse tsunami veroorsaak? Hoeveel ys kan dit laat wegbreek, wat die proses van aardverwarming nog vinniger kan versnel omdat die see meer hitte as ‘n ysplaat absorbeer? Die sneeu op die ysplate neig om die sonstrale terug te kaats.

As die Japannese navorsers reg is, sal nog meer sulke aardbewings voorkom, en soos die proses versnel dan al hoe meer sulke aardbewings. Boonop was die jongste aardbewing baie vlak onder die bodem, en was dit sterk genoeg en die bodem hard genoeg, sou dit ‘n tsunami kon veroorsaak.

Hoewel dit nie onmoontlik is nie dat die smeltende ysplaat en die gevolglike kontinentale verheffing ‘n rol kon speel nie, lyk hierdie een nie baie waarskynlik nie. In die jongste tyd was daar ‘n redelike aantal aardbewings op die betrokke rif wat na die Kaliforniese skiereiland in Mexiko met ‘n boog by Antarktika verbyloop, en dan in die Indiese Oseaan noordwaarts strek tot waar dit vertak. Nog so ‘n aardbewing van M5.1 het juis die afgelope week op dieselfde rif teenoor die Antarktiese skiereiland voorgekom, met verskeie wat ‘n rukkie tevore onder meer naby die Paas- en Pitcairrn-eilande voorgekom het.

Nogtans, vanjaar was daar meer aktiwiteit as gewoonlik by die yskontinent, en dit sal onwys wees om nie ‘n ogie daarop te werp nie.

Herman Toerien