Subscribe by Email

Aardbewings om Antarktika

Die aardbewing van M 6,1 wat pas die Suid-Eiland van Nieu-Seeland getref het plaas bietjie fokus op aardbewings in die suidelike halfrond, en veral in die omgewing van Antarktika.

Benewens die feit dat aardverwarming Antarktika stadigaan van sy dik yskombers stroop, wat minstens tot een baie groot aardbewing van M 8,1 in 1998 by die Baleinse Eilande gelei het, is dit nou somer in die suidelike halfrond, en wek die aardbewings op die poolsirkel bietjie meer as net terloopse aandag.

Die afgelope week was daar ‘n hele paar sulke aardbewing, ook suid van Suid-Afrika, maar niks was so sterk soos die grote van 8,1 nie.

‘n Bykomende rede hoekom die spulletjie bietjie met ‘n glasoog betrag word, is dat daar van die groot Japannese aardbewing verlede jaar deur satellietfoto’s bemerk is hoe die reeds erg verswakte tsunami groot blokke ys van Antarktika se ysplaat losgeruk het.

Antarktika is gewoonlik nie bekend vir aardbewings nie, maar as die aardkorsopheffing wat op die wegsmelt van die yslaag volg die krag van M 8,1 kan oplewer, is dit minstens in teorie moontlik dat tsunami’s by Antarktika kan ontstaan en bevolkte gebiede soos die Suid-Kaap en Suid-Australië kan tref.

Onder die jongste aardbewings op die poolsirkel was die een van 6,6 by die Suid-Shetlandeilande, binne ure van ‘n effens swakker aardbewing van 6,2.

Hoewel die kaart nou ‘n stil aardbewingtyd suid van Australië aandui, was daar verskeie aardbewings in die gebied, onder meer ook by die Baleinse Eilande. Hierdie aardbewings is egter byna voor die voet op bestaande raakvlakke waar tektoniese plate aan mekaar grens, en aardbewings sonder faktore soos kontinentale opheffing is dus nie vreemd nie. Om dus nou op statistiese gegewens gevolgtrekkings te maak dat dit met die warmer klimaat verband hou, is gevaarlik. Japannese wetenskaplikes het eers na intensiewe studie die grote van 1998 aan die smeltende ys verbind.

Herman Toerien