Subscribe by Email

Aardbewings: Moet Kalifornië vir grote regmaak

‘n Groeiende groep mense glo dat Kalifornië se volgende groot aardbewing op hande is. Maar hou dit water?
Sedert die bielie-aardbewing van 7.2 by die Fox-eiland naby Alaska op 24 Junie, het ‘n rits aardbewings van sterker as 5 teen ‘n gemiddelde voorkoms van ongeveer vier per dag voorgekom.
Die uniekheid hiervan is dat met enkele uitsonderings na, almal in ‘n boog van Nieu-Seeland se Noord-eiland, Fidji, Tonga, die seegebied wes en noordwes van Australië, deur Indonesië na Japan tot Alaska plaasgevind het. Die mees onlangse by Japan was wes van Japan, anders is die grote van 11 Maart. Pas is die “boog” verleng met ‘n aardbewing wes van Nicaragua, hoewel ‘n paar ook al in en wes Chili en in Argentinië voorgekom het.
Hierdie “boog” kom grootliks met die bekende ring van vuur om die Stille-Oseaan ooreen.
Die interessante vraag is hoekom die ander aardbewinggeteisterde dele van die wêreld nou al vir meer as ‘n week ‘n amperse “stilstuipe” aan aardbewings van 5 of meer oplewer?
En kan iets hieruit afgelei word? Moet die inwoners van Kalifornië dalk hul lywe vetsmeer vir ‘n grote? Die laaste noemenswaardige aardbewing (4.1) het noordelike Kalifornië op 8 Januarie getref. Dit was in dieselfde orde as ‘n stuk of sestig aardbewings wat Arkansas getref het – ‘n liggies-seismiese gebied waarvan die oorsaak nie baie duidelik is nie.
Daarteenoor is die oorsaak van Kaliforniese aardbewings baie duidelik – die San Andreas-fout. Anders as die ander vernaamste aardbewingsgebiede skuif die twee plate nie “kop aan kop” op mekaar af nie, maar in wese in teenoorgestelde rigtings by mekaar verby. Dié beweging is miskien minder bevorderlik vir werklike groot aardbewings omdat die skuiwing deurlopend plaasvind en daar dus in beginsel relatief min spanning opbou. Onlangs het navorsers boonop vasgestel dat veraf aardbewings die ontspanningsproses aanhelp, en dat skaars merkbare trillings dan gevoel kan word. Dit gee tog periodiek groot aardbewings af. In Maart verlede jaar het ‘n aardbewing van 7.2 byvoorbeeld Mexikaanse Kalifornië geskud.
Die huidige Kaliforniese stilte kan dus beteken die spanning word gereeld verlig en dat daar nie ‘n grote te wagte kan wees nie – of dit is die stilte voor die storm – dat daar slegs matige skuiwe plaasvind omdat iets iewers haak en dat daar dan ‘n vreeslike spanning opbou. Ja, ‘n grote gaan Kalifornië eendag tref, maar die kundiges waag nie menings nie.
Dit het twee “profete,” een in Italië (hy is al ‘n paar jaar gelede oorlede) en Taiwan nie verhinder om met dag en datum verwoestende aardbewings vir dié twee lande te voorspel nie. Toevallig het hul voorspellings bykans wat datum betref saamgeval. Toevallig is op die voorspelde dag, 11 Mei, groot skade en lewensverlies in Spanje aangerig.
Om bloot ‘n aardbewing in Italië te voorspel is geen kuns nie – in dié land gaan kwalik ‘n dag verby dat daar nie iewers minstens ‘n trilling was nie.
In April is die Kaliforniese vraag weer op die tafel geplaas toe ‘n handleiding oor gereedheid vir aardbewings wel uitgereik is, getiteld “Preparing for the great Shakeout drill.” Dit is egter volgens die subtitel op inwoners van sentraal-VSA gerig. Volgens die huidige kennis is die aardbewinggevaar van die inwoners van sentraal-VSA, soos dié in Arkansas, maar ‘n vulletjie teen wat eendag vir Kalifornië voorlê. Alarmiste skreeu dus die regering probeer deur die handleiding die mense van Kalifornië so goed as moontlik voorberei, maar sonder om paniek te saai deur die aandag na sentraal-VSA weg te lei.
Min of meer dieselfde vraag oor stiltes voor die storm kan egter gevra word oor die stilte aan aardbewings buite die Ring van vuur. Van 14 Februarie met ‘n redelike aardbewing van 6.6 in Chili was daar ook ‘n vreemde “stilte” aan beduidende aardbewings wêreldwyd tot 7 Maart, maar veral 9 Maart toe Japan sy 7,2 voorskok voor die grote gekry het. In hierdie “stil” tydperk het Christchurch wel groot skade en lewensverlies gelei, maar die sterkte daarvan was “maar” 6,1. Aardbewings van hierdie sterkte haal selde die USGC se lys van beduidende aardbewings, tensy faktore soos die nabyheid daarvan, diepte onder die oppervlak en die tipe rotsformasies wat die skokgolwe herlei, sterftes tot gevolg het. Vanjaar is byvoorbeeld ‘n paar aardbewings van minder as vyf opgeneem omdat daar sterftes was, bv aan die grens tussen Sjina en Mjanmar, in Spanje en in Turkye.
Die skale wat vir die meet van aardbewings gebruik word, is logaritmiese skale. Die aardbewing van 5.1, sou dit met die Richterskaal gemeet gewees het, wat Spanje getref het, is byvoorbeeld 10 keer swakker as die aardbewing van 6.1 wat Christchurch getref het. Dieselfde gebeur met die aardbewing van 7.1 Araucania in Argentinië vroeg vanjaar getref het. Dié is weer aansienlik swakker as die een wat Alaska se Fox-eilande onlangs getref het. Honshu se 9 was weer baie, baie sterker.
Voorheen is die Richterskaal hoofsaaklik gebruik, maar sedert 1970 gebruik die USGC die Moment-magnitudeskaal (MMS). Die Richterskaal was nooit ontwerp om aardbewings sterker as sewe te meet nie. Die twee skale meet ongeveer dieselfde lesing by ‘n aardbewing van sterkte 5. Omdat verskillende aspekte van die skuddings gemeet word, kan die lesings soms baie na-aan mekaar wees, maar soms taamlik verskil. Soms is die een hoër, en soms die ander.
Herman Toerien