Subscribe by Email

Aardbewings in Suidelike lande

Dit gebeur nie gereeld dat al die wêreld se mees suidelike lande, Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Argentinië en Chili binne enkele dae beduidende aardbewings beleef nie. Dit het pas gebeur, en boonop het ‘n aardbewing ook op die randjie van Antarktika voorgekom.
Die meeste van die aardbewings hou verband met die tektoniese verskuiwings op die raakvlakke van sulke plate.
Die aardbewing wat deur die Amerikaanse USGS as “behorende” tot Suid-Afrika toegeskryf word, was gelukkig ver van die kus af – op die rif suidoos 2010 kilometer suidoos van Durban, en 465 kilometer van Marion en Prins Edwardeilande. Dit het M5.3 gemeet, dus ‘n hele entjie ligter as die grote wat Tulbach ‘n paar dekades so erg geskud het.
Die aardbewing in Australië het wel op droë grond plaasgevind, sowat 250 kilometer noord van Adelaide. Dit het maar M 3.8 gemeet.
Die sterkste van die reeks skuddings wat nou weer Christchurch in Nieu-Seeland skud, was M4.5. Daar was egter onlangs een van M5 suid van die Suideiland.
Die sterkste onlangse aardbewing in Chili het M5.8 plaasgevind. Argentinië het onlangs ‘n stewige skudding van M6.7 op die lyf geloop. ‘n Skudding van 5.1 het ook pas op die uiterste punt van die Antarktiese skiereiland voorgekom.
Die sterkste onlangse skudding was een van M7 by Vanauta noordoos van Australië. Hoewel daar nou gereeld aardbewings oor die hele lengte van die Atlantiese Mid-oseaniese rif voorkom, is by verre die meeste aardbewings steeds aan die ring van vuur te wyte.