Subscribe by Email

Aardbewings: En toe was daar ‘n grote op die Ring van Vuur

Die rits aardbewings die afgelope paar weke in ‘n boog van Nieu-Seeland, tot noordoos van Australië en langs Japan verby tot Alaska voorkom, het vrae laat ontstaan of dit op iets kon dui. Die meeste aardbewings was net sterker as 5, behalwe vir ‘n onlangse skudding van 7.2 naby Alaska.
Nou wás daar ‘n grote – een van 7.6 by die Keramadec-eilande noodwes van Australië.
Dié aardbewinggeteisterde gebied is waar die Stille Oseaan-plaat onder die Australiese plaat inbeweeg. Die snelheid is sowat 61 millimeter per jaar.
Die grote het 550 kilometer suid van Tonga plaasgevind en 650 kilometer noord van Nieu-Seeland.
Hoewel dié gebied baie aardbewings – ook grotes oplewer – was dit in die onlangse verlede afwesig met die aanteken van aardbewings van 5 of meer. Weerskante, in Tonga en Nieu-Seeland se Noord-eiland, is wel sulke aardbewings as deel van die onlangse aardbewings op die Ring van Vuur aangeteken.
Toe dit wel lostrek, was dit ‘n bielie, gevolg deur ‘n rits naskokke van sterker as 5. Daar was geen beduidende voorskok nie.
Oor die afgelope 38 jaar is byna 50 aardbewings van magnitude 6.5 hier voorgekom en vier sterker as 7.5. Een hiervan was 7.8 en ‘n nader, in 1986, was ‘n bielie van 8.3. Dié grote se episentrum was sowat 130 kilometer noord van die huidige. Die USGC berig dat geen skade of sterftes met enige hiervan aangemeld is nie.
Daar is steeds geen aanduiding dat daar die afgelope tyd ‘n beduidende aantal aardbewings van beduidende sterkte buite die Ring van Vuur voorkom nie.
Herman Toerien