Subscribe by Email

Aardbewings en hul sterkte – die Upington-kopkrapper

Suid-Afrikaners het onlangs weer bewus geword van die potensiaal iewers onder die oppervlak wat soveel skade en lewenverlies bo die aarde kan veroorsaak toe ‘n aardbewing naby Augrabies tot in Upington gevoel is. Dié keer het dit die Amerikaanse USGC se kaart van beduidende aardbewings gehaal, al was dit ook maar net-net.

In ons koerante het ons gelees hierdie aardbewing het 5 op die Richterskaal gemeet, maar op die USGC se lys sien ons dat dieselfde aardbewing magnitude 4,3 gemeet het.

Hoe nou?

Suid-Afrika is een van die minderwordende lande wat nog aardbewings op die Richterskaal meet. Die USGC meet dit op die meer akkurate seismiese moment-magnitudeskaal.

Om die verskil eenvoudig te vergelyk daarmee om te sê tien kilometer is dieselfde as ses myl, twee verskillende maatstawwe wat vir afstand gebruik word wat al tot verwarring en ruimteongelukke gelei het waar die VSA (myle) en Europa (kilometers) saamgewerk het, is ongelukkig nie so eenvoudig nie.

Die Richterskaal is in 1935 by die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie ontwikkel, en is aanvanklik bedoel om net in ‘n bepaalde area in Kalifornië gebruik te word. Hierin is meer as net ‘n tikkie ironie ingesluit – Suid-Afrika se raad vir Geowetenskappe beskou Suid-Afrika se geologiese formasies as veel meer geskik as die gefragmenteerde geologie van suidelike Kalifornië om die Richterskaal te gebruik.

Kortom, dit wat vir Kalifornië se geologie ontwerp is, word in Kalifornië self as nie akkuraat genoeg nie beskou, en in plaas daarvan word die moment-maginitudeskaal gebruik, terwyl elders, waarvoor dit nie ontwerp is nie, nog dikwels van die Richterskaal gebruik gemaak word.

Die seismiese moment-magnitudeskaal word soos volg deur NSASA se studiewebwerf beskryf: “Using the seismic waves and field measurements that describe the fault area, the moment, a parameter related to the angular leverage of the forces that produce slip on a fault, can be measured. This moment can be related to a corresponding magnitude for easier interpretation, called the moment magnitude. The benefit of this type of measurement is that it gives a consistent and uniform measure of the size of an earthquake of any magnitude anywhere in the world, and because it takes into account fault geometry. Along with this new type of measurement, the individual amplitudes of body and surface waves are being measured as well.”

Omdat verskillende aspekte op verskillende maniere gemeet word, en die foutlyne boonop van streek tot streek verskil, is dit ook geen eenvoudige taak om een lesing na ‘n ander om te skakel nie. Die mees waarskynlike lesing op beide skale – beide logaritmiese skale – waar dieselfde lesing gekry sal word is in die orde van 5,6. Dit is egter nie ‘n noodwendigheid nie.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Geowetenskappe is op die oomblik besig om te werk aan ‘n manier om die Richterskaal en die Moment-manitudeskaal vir Suid-Afrika te kalibreer.

Tot in 1997 het Suid-Afrika die oorspronklike formule vir die Richterskaal gebruik, maar daarna ‘n gewysigde wat die verskille tussen die geologie van Suid-Afrika en Kalifornië in verrekening bring. Ian Sutton van die Raad werk nou aan ‘n meer verfynde formule, en die manuskrip waaraan hy werk is reeds vir publikasie in die Journal of Seismology aanvaar is.

Volgende jaar sal die Suid-Afrikaanse omskakeling na die Moment-magnitudeskaal groter aandag geniet: “A moment magnitude scale will be developed for South Africa from work on the frequency dependant attenuation which I am planning for next year,” skryf Sutton.

Suid-Afrika is wel deeglik bewus van die voordele daarvan om aardbewings se sterkte eerder in die moment-magnitudeskaal uit te druk. Sutton stel dit so: “The Moment Magnitude scale is a more accurate scale since it is based on the geometry and energy released from the source. However, the Richter scale is still in use in many parts of the world since it provides a very simple methodology to determine the size of an earthquake.”

Die kaart hieronder dui 200 aardbewings aan vir die week tot 24 Desember. Vir die VSA en sy regstreekse omgewing word aardbewings van M2,5 en sterker aangetoon, elders 4,5 en sterker. Die aardbewing by Upington sou dus normaalweg ook nie op die kaar aangedui gewees het nie, maar uitsonderings is hier gemaak soos blyk dat ook ligter aadbewings aan die Europese kus aangetoon is.
Die rede waarom Augrabies die afgelope ongeveer ‘n jaar deur soveel aardbewings geteister word, is nog nie presies vasgestel nie. Gewoonlik word Afrika, Australië en Antarktika as betreklik aardbewingvry beskou, hoewel daar areas is wat wel meer vatbaar vir aardbewings is. Die Tubach-omgewing is bekend, terwyl die mense van die Vrystaatse Goudvelde ook nie meer ‘n oog knip as die aarde onder hul voete begin tril nie. Dis gewoonlik ligte aardbewings of trillings, en verskil van tipiese aardbewinsones soos dié aan die kus by Chili, die omgewing van Japan, die Kaliforniese kus en ander areas rondom die sogenaamde Ring van Vuur.

Dit het met tektoniese plaaverskuiwing te make, terwyl Afrika oor die algemeen gelukkig is dat al die tektoniese beweging weg van die kontinent is.

In die Luckhoff-omgewing kom daar egter al lank periodiek ligte aardbewings voor waarvan die oorsaak ook min of meer net vermoed word, en wat in berekening gebring is by die ontwerp van die Van der Kloofdam.

In Februarie vanjaar, na die Amerikaanse staat Arkansas deur ‘n “swerm” van sowat 60 ligte aardbewings getref is, het die USGC ‘n artikel oor die onderwerp gepubliseer. Oor die eeue is Arkansas periodiek deur sulke swerms getref. “Scientists do not know why swarms start, why they stop, or how long to expect them to last. The possibility of a larger earthquake cannot be discounted, but none of the other swarms have caused any reason to expect a future earthquake large enough to cause significant damage in central Arkansas.”

Dus – die VSA sit ook met kopkrappers soortgelyk aan Luckhoff en Augrabies.

Die neiging is om die oorsake baie miljoene en selfs miljarde jare gelede te gaan soek. Die huidige periode van kontinentale drywing wat die aarde beleef, en wat sowat 200 miljoen jaar gelede begin het, is nie die eerste wat die aarde beleef het nie. Wetenskaplikes weet van sowat sewe, waarvan die oudste bekende so lank terug was dat die aarde nog vuurwarm was, en water nie in vloeibare vorm kon bestaan nie. Kontinente het as’t ware die “oseane” droogvoets oorgesteek.

Hierdie foutlyne, asook foulyne wat op ander maniere ontstaan het, is nie noodwendig heeltemal onaktief nie.

Die aardbewing van 8,1 wat die Baleinse eilande aan die kus van Antarktika in 1998 getref het, word deur Japannese wetenskaplikes wat dit deeglik ondersoek het toegeskryf aan die “regstelling” van die aardkors onder die mindere druk van smeltende ys. Dié spanning wat die aardbewing tot gevolg gehad het, is langs so ‘n “onaktiewe” ou foutlyn gelei. Vanjaar het weer aardbewings, wel ligter, in dieselfde omgewing voorgekom maar klaarblyklik op die huidige aktiewe raakvlak van tektoniese plate.

Dit lyk ook nie of die aarde aardbewinggewys “rustiger” word soos dit ouer word nie.

Na 2010 die meeste aardbewings die afgelope aantal jare van aardbewings van M 7 of meer opgelewer het, lyk dit of 2011 nie ver agter gaan bly nie.

Verlede jaar het 22 sulke aardbewings voorgekom, waarvan die bielie van 8.8 in Chili die grootste was. Die aardbewing van 7 wat Haïti op 12 Januarie verlede jaar getref het, was egter die een wat die meeste aandag getrek het.

Met ongeveer ‘n week oor na die einde van die jaar, het 2011 reeds 19 sulke aardbewings opgelewer. Die bielie van M 9 wat Japan op 11 Maart getref het, was die ergste. Die skudding van 7.1 wat Turkye op 23 Oktober getref het, het ook met groot lewensverlies gepaard gegaan. Die aardbewing van M6.1 wat Christchurch op 21 Februarie getref het, het egter waarskynlik die meeste media-aandag geniet.

Verskeie faktore, benewens sterkte en afstand, speel ‘n rol in hoe groot die skade kan wees. Die aardbewing wat Christchurch in Februarie gedeeltelik in puin gelê het se episentrum was maar 6 kilometer van die stad, en minder as ses kilometer diep. Die Turkse skudding se episentrum was heelwat verder van die naaste nedersetting, en heelwat dieper.

Waar 2010 se bielies redelik verspreid oor die wêreld voorgekom het, was vanjaar se grotes bykans almal om die Ring van Vuur. Ses van die bielies het naby Japan voorgekom, drie het by Vanuata twee by die Keremadic-eilande. Slegs 2, een in Pakistan en die ene in Turkye, is nie op die Ring van Vuur geleë nie.

Vanuata en die Keramadic-eilande lê op foulyne wat by Nieu-Seeland saamloop. Met die groot aktiwiteite op daardie foutlyne was aardbewings in Nieu-Seeland byna ‘n gegewe, en tydens die Rugby-wêreldbekertoernooi het ‘n paar betreklike sterk aardbewings as “vootsettings” aan die kus van die Noord-Eiland voorgekom.

Nog ‘n verskynsel is dat areas wat gewoonlik min aardbewings kry, vanjaar ook ‘n paar keer deurgeloop het, hoewel baie matig. Australië het ‘n paar taamlike ligte skuddings op verskillende dele van die kontinent Doer Onder beleef. Die afgelope week was daar bykans 200 beduidende aardbewings wêreldwyd (kyk kaart) maar nie een het M 6 of sterker geregistreer nie. Die naaste aan M 6 was 23 Desember by Christchurch, en ongeveer ‘n dag later suid van Suid-Afrika in die see. Beide het M 5.9 gemeet.

Voorlopig lyk dit of verlede jaar se rekord van bielies veilig is.

Herman Toerien