Subscribe by Email

Aardbewings en aarde se Goue Lokkies-status

Hoe hou verwoestende en katastrofale aardbewings en die aarde se goue lokkies-status met mekaar verband?
Baie. Een van die belangrikste faktore is dat baie van die regtige groot aardbewings verband hou met die skuiwing van die aarde se tektoniese plate, soos kontinentale drywing, wat deur konveksiestrome in die gesmelte magma diep onder die aardkors aangedryf word. Hierdie konveksiestrome hou weer verband met die aarde se magneetveld, wat ‘n baie, baie groot rol speel om die aarde leefbaar te maak.
Nie alleen beskerm die magneetveld lewe op aarde teen baie skadelike kosmiese bestraling nie, dit help ook keer dat die sonwinde die atmosfeer wegwaai, soos wat grootliks met die atmosfeer van Mars gebeur het.
Gereelde verwoestende aardbewings is dus ‘n relatiewe klein prys om te betaal vir die beskerming wat dieselfde oorsaak aan die aarde en sy bewoners bied.
Die voordele strek veel verder. Sonder die hersmeltingseffek van ou aardkors wat afgedwing word om te hersmelt, sou die see ook veel souter gewees het, omdat hierdie proses ‘n belangrike deel van die soutsiklus uitmaak. Die see sou onleefbaar sout gewees het.
Maar wat sou gebeur het as die aarde nie die tektoniese plate gehad het nie?
‘n Betreklik akkurate manier om die alternatief te skets, is om na buurplanete en selfs die maan te kyk. Hoe meer die planeet met die aarde ooreenstem, hoe beter. Die planeet wat in grootte die naaste met die aarde ooreenstem, is Venus, maar daar is verskeie probleme om tektoniese verskille te bestudeer.
Die planeet is met ‘n dik wolkkombers oortrek, dit roteer andersom, en baie stadig, om sy eie as, en is geologies in ‘n totale nader era as die aarde.
Maar juis die laaste bied dalk ‘n paar antwoorde.
Venus het nie ‘n waarneembare magneetveld nie, en tektoniese drywing vind nie plaas nie. Tog is sekere kragte teenwoordig wat op die aarde ook teenwoordig is, tipies van wanneer ‘n warm, gesmelte binnekant ‘n effek op ‘n koeler, soliede kors uitoefen. Daar is op Venus dus woeste vulkaniese uitbarstings, soms in die vorm van ontploffings wat vulkaniese kraters van honderde kilometer in deursnee veroorsaak, en lawastrome wat oor duisende kilometer gevloei het.
Dit is ‘n natuurlike proses wanneer die kors weens stolling en afkoeling krimp, maar die gesmelte binnekant eis steeds sy ruimte op.
Daar is trouens aanduidings dat Venus oor miljarde jare werklike groot katastrofale uitbarstings beleef het. Trouens, die aanduidings is dat die planeet se huidige kors-oppervlak baie jonk is – slegs sowat 300 tot 600 miljoen jaar oud, ‘n aanduiding dat die kors periodiek deur reuse aktiwiteite van voor af gevorm word.
Hierteenoor verseker die beweging van die aarde se tektoniese plate dat spanning nooit te erg opbou nie. Voor dit gebeur is daar ‘n “loshaak” en ontspanning, wat groot aardbewings tot gevolg het.
Venus is ‘n besonder onvriendelike planeet met die atmosfeer wat aan die oppervlak warmer as 400 grade celsius is. Die bodem se eie hitte vergelyk ook met dié van die aarde se oppervlak voor dit genoegsaam afgekoel het dat waterdamp kon kondenseer en oseane onder meer gevorm kon word. Die voortdurende vulkaniese werking is moontlik ook die rede waarom Venus, ten spyte van die impak van die sonwinde, ‘n atmosfeer het wat aan die oppervlak ongeveer 90 keer digter as dié van die aarde het.
Venus se toestande is ‘n klassieke voorbeeld oor waarom ander faktore as net die afstand van die son, die grootte en swaartekrag, en bodemgesteldheid bepaal of ‘n planeet binne die teoretiese goue lokkies-parameter bewoonbaar is.
Nog ‘n hemelligaam wat nie oor ‘n magneetveld beskik nie, en ook onbewoonbaar is, is die maan. Navorsers het vasgestel dat die interne afkoeling van die maan tot gevolg het dat die maan se oppervlak met ongeveer ‘n rugbyveld se lengte gesak het. Hoewel dit oor ‘n baie lang tyd gebeur het, kan die katastrofale uitwerking net ingedink word, sou dit op die aarde plaasgevind het. Slegs ‘n paar sentimeter sak op ‘n slag sou ongekende aardbewings tot gevolg gehad het.
Maanbewings vind gereeld plaas.
Skeure in die oppervlak van planete waar die kors afkoel en meer krimp as wat die warm binnekant toelaat, is soms indrukwekkende groot en diep Canyons, soos wat blykbaar op Mars gebeur het. Omdat Mars volgens aanduidings eens vloeibare oppervlakwater gehad het, moet onderskei word tussen geomorfologiese verskynsels wat van ‘n water-erosieherkoms is, en dit wat as gevolg van skeure in die aardkors ontstaan het.
Aardbewings van ‘n soortgelyke herkoms kom skynbaar ook op die aarde voor. Suid-Afrikaners is lank reeds bewus daarvan dat die omgewing van die Van der Kloofdam gereeld aardbewings kry, en dié feit is ook by die ontwerp en bou van die dam in verrekening gebring. Hierdie aardbewings is in die reël lig, en geoloë kan nie presies die prosesse so diep onder die aarde met sekerheid stel nie. Sedert verlede jaar beleef die inwoners van die Kakamas-omgewing ook gereeld ligte aardbewings, waarvan ‘n onlangse tot in Upington gevoel is. Die Amerikaanse deelstaat Arkansas beleef periodiek ook vlae ligte aardbewings, soos op die oomblik weer waar die streek die afgelope paar weke sestig ligte aardbewings ondervind het. Die US Geological Survey maak geen geheim daarvan dat dit nog nie behoorlik verklaar kan word nie.
Die situasie is in wese dat die verskuiwing van tektoniese plate, die spanning wat by botsings opgebou word, en die periodieke ontspanning in die vorm van aardbewings, nie die hele proses behoorlik verklaar nie. Soos gemeld is die aardbewings bykans altyd lig, maar ‘n mens kan maar net dink hoe die aardkors by sulke plekke sou reageer as die algemene spanning in plate nie periodiek deur die prosesse wat ons nou reeds so goed ken, sou ontspan het nie.
Die tempo waarteen aardbewings voorkom, ook erge aardbewings, dui ook daarop dat die aardkors nie besig is om stagnant te raak nie. Verlede jaar het byvoorbeeld die meeste aardbewings bo magnitude 7 opgelewe sedert 2003 wat die vergelykende data bestudeer is, terwyl daar boonop een van 8,8 was, meer as ‘n honderd keer sterker as die bewing wat Christchurch nou met soveel lewensverlies verniel het. (Die Richterskaal word gewoonlik net vir mediumsterkte-aardbewings gebruik). Trouens, die grote, in Chili, het minstens een naskok opgelewer wat veel sterker as die onlangse Christchurch-bewing was.
Wat vanjaar betref, was daar tussen 1 en 18 Januarie vier aardbewings wat meer as magnitide 7 aangeteken het, en sedertdien was dit stil wat die bielies betref.
Kan hieruit afleidings gemaak word?
Die feit is dat die tektoniese plate met enkele sentimeter per jaar beweeg – soms weg van mekaar, soms reg teen mekaar in, soms langs mekaar verby, en dat daar altyd iewers besig is om spanning op te bou wat die een of ander tyd gaan ontsnap – met ‘n aardbewing die gevolg. In beginsel, hoe langer dit duur voordat die ontspanning kom, hoe groter kan die uiteindelike aardbewing wees. Dit is egter nie noodwendig die geval nie – dit kan ook deur kleiner, maar meer, aardbewings geskied.
En as die skade en lewensverlies bekyk word, dink aan Venus om ‘n idee te vorm van hoe sake daar sonder die aardbewings sou uitsien. Dis ‘n teken dat die aarde steeds ‘n leefbare planeet binne die goue lokkies-sone is.
En as daar ‘n bielie is wanneer ‘n klompie planete binnekort mooi in gelid is, gaan die doemprofete sê: “Ons het julle mos gesê.”
Maar wees gerus, die planete se gesamentlike uitwerking op die aarde is veel, veel minder as dié van die son en die maan, en so ‘n bielie sal bloot toevallig wees.