Subscribe by Email

Aanvang van haatspraakverhoor van Julius Malema

Maandag is die aanvang van een van die mees prominente hofsake sedert die vryspraak van pres. Jacob Zuma in sy korrupsieverhoor, wanneer die haatspraakverhoor van AfriForum teen mnr. Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga, in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg begin.

AfriForum het ‘n klag van haatspraak teen Malema ingedien nadat hy herhaaldelik ‘n omstrede struggle-lied by onderskeidelik sy verjaardagpartytjie in Polokwane, ‘n saamtrek van die ANC-Jeugliga, ‘n saamtrek by die Universiteit van Johannesburg, in Rustenburg, Mafikeng en Oos-Londen in Maart 2010 gesing het.

Malema het selfs die lied, Dubul’ iBhunu (Skiet die Boer), in Harare, Zimbabwe, gesing ná die Noord-Gautengse hooggeregshof ‘n interdik teen hom toegestaan het om hom te verbied om die lied te sing totdat die regsproses in die gelykheidshof afgehandel is. In dié tyd het Malema beweer die Suid-Afrikaanse howe se beslissings geld nie in Zimbabwe nie. Hy het ook beweer die hofbevel is toegestaan deur ‘n “ongetransformeerde regstelsel, dieselfde een wat tydens apartheid gefunksioneer het”.

Die ANC het almal verras toe hy besluit het om in Februarie vanjaar by die verrigtinge aan te sluit, kort nadat hulle hulleself effektief van Malema se uitsprake gedistansieer het. Die ANC en Malema gaan nou deur dieselfde regspan verteenwoordig word, onder die leierskap van adv. Vincent Maleka SC. In wese ontken die ANC en Malema nie die woorde of die betekenis van die omstrede struggle-lied nie, maar beweer hulle die lied is nie gesing met die bedoeling om enigiemand skade te berokken nie. Om sy standpunt te ondersteun, gaan Malema en die ANC die hulp van verskeie hooggeplaastes inroep om as getuies te dien. Mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, mnr. Colin Chabane, minister in die presidensie, dr. Wally Serote, ANC-veteraan, mnr. Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie, en Malema gaan as getuies geroep word.

Mnr. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sal names AfriForum getuig, terwyl dr. Annamarie Gray, senior lektor in musiek, namens AfriForum as deskundige getuie geroep gaan word.

Dr. Gray het ‘n meestersverhandeling in musiek getiteld “Die rol van vryheidsliedjies tydens die struggle-era” gedoen.

Die landbou-organisasie TLU SA gaan ook verskeie getuies roep, insluitend ‘n boer wat onlangs op sy plaas aangeval is, ‘n kriminolgie-professor van die Universiteit van Pretoria en die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen.

Die verhoor gaan na verwagting twee weke duur. AfriForum sal elke dag om 12:00 en aan die einde van die dag verklarings van die hofverrigtinge uitstuur. Joernaliste word uitgenooi om vir dié diens te registreer deur me. Leané du Plessis, AfriForum se hoof van mediaskakeling, te kontak.

Willie Spies

Regsverteenwoordiger – AfriForum

083 676 0639

afriforum@afriforum.co.za

Leané du Plessis

Hoof: Mediaskakeling – AfriForum

082 418 8508

leane@afriforum.co.za