Subscribe by Email

5 Verdrinkings tot dusvêr aan die kus en binneland

Vier mense het reeds sedert die begin van die vakansie aan die kus verdrink, maar ook in die binneland is minstens een persoon ook dood aan verdrinking.

‘n Dertigjarige man het in ‘n dam op ‘n kleinhoewe in Pretoria verdrink. ‘n Woordvoerder van ER-24, Vanessa Jackson sê die man en sy vriend het in die dam gaan swem toe hy onder die water verdwyn het. Die vriend het om hulp geroep, maar kon nie die slagoffer vind nie. Polisieduikers het meer as ‘n uur geneem om die man se liggaam te vind. Paramedici het die man op die toneel dood verklaar.

‘n Man is per helikopter na die hospitaal geneem, nadat hy tussen Wildernis en Lientiesklip aan die Tuinroete in die see in die moeilikheid beland het. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Craig Lambinon, sê die Metro se paramedici en vrywilligers van die NSRI het die man op die strand gevind en met noodbehandeling begin.

Die NSRI soek intussen steeds na ‘n man wat op Mnandi-strand in Valsbaai vermis geraak het.

‘n Twintigjarige man van Port Elizabeth het by die Willows in die see verdrink. ‘n Woordvoerder van die Nelson Mandelbaai Munisipaliteit, Ongama Mtinka, sê die man, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, het in die see by ‘n private strand waar daar nie lewensredders is nie, in die moeilikheid beland en kon nie gered word nie. Dit is die eerste verdrinking dié feesseisoen op Port Elizabethse strande.

Vyf mense is gered nadat hulle boot naby Dassen-eiland aan die Kaapse Weskus omgeslaan het. Die Nasionale Seereddingsinstituut het ‘n span na die eiland gestuur om die drie mans en twee vroue te gaan haal nadat hulle agt-meter lange ski-boot omgeslaan het. ‘n Woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, sê die vroue het ligte snywonde opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

In nog voorvalle wat verwant is aan mense op vakansie by die kus, is drie swemmers en twee lewensredders wat deur seestrome meegesleur is by Brenton-on-Sea naby Knysna in die suid-Kaap, na veiligheid gebring. Die woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon sê die lewensredders het swemmers wat deur sterk seestrome meegesleur is, te hulp gesnel maar is toe self meegesleur.