Subscribe by Email

4 Provinsies stel matriek rekordeksamen uit

Die Noord-Kaap het nou ook sy matriek-rekordeksamen wat môre sou begin, uitgestel. Dit is die vierde provinsie wat besluit het om die rekordeksamen weens die staatsdiensstaking uit te stel. Die Gautengse Departement van Onderwys het vanoggend aangekondig dat die Graad 12 rekordeksamen, wat op die 3de September sou begin, uitgestel is.

Die departement sê die staatsdiensstaking het ‘n ernstige uitwerking op onderwys in die provinsie. ‘n Woordvoerder, Charles Phalane, sê dit sal nou in die week van die 20ste September begin. Hy sê vraestelle sal in die middae geskryf word, omdat agterstallige werk soggens ingehaal sal word. Phalane het sy empatie met ouers en matrikulante betuig en sê dit is ‘n spanningsvolle situasie.

Vroeër het die Oos-Kaap en die Vrystaat ook hul rekordeksamens weens die staking uitgestel. Intussen is daar sprake dat die regering moontlik weer samesprekings met staatsdiens-vakbonde gaan hervat. ‘n Woordvoerder van die regering, Themba Maseko het dit bevestig. Dit volg op hernieude dreigemente deur Cosatu om die staatsdiens heeltemal lam te lê, deur die staking selfs verder met ‘n simpatie-staking uit te brei.

Maseko sê dit is belangrik om alle betrokke partye weer in een vertrek te kry, sodat ‘n permanente oplossing vir die probleem gevind kan word. Vroeër het die Onafhanklike Arbeidskoukus die regering gevra om op te hou tyd mors en na die onderhandelingstafel terug te keer. Die voorsitter van die koukus, Chris Klopper, het bevestig dat die koukus gewillig is om samesprekings te hervat.